News

Bedsere weens swak pasiëntsorg

• Bets Claassen was 'n paar weke in die Middelburg Provinsiale Hospitaal waar sy weens sepsis gesterf het, nadat haar lyf oortrek was van rou bedsere.

• Vir sestien jaar het sr. Miempie Meyer vir Eppie Pohl behandel, die man wat in ‘n koma was na ‘n boksgeveg, en nooit het hy ‘n bedseer gekry nie!

“Ek het gehuil toe ek die stories lees van Bets Claassen. Sy is dood weens lyding. Soos sy gelê het, het sy gelê en vrot geword.

“Hulle moes geweet het het daar moet ekstra aandag gegee word, want sy het ‘n gebreekte heup gehad! Daardie arme vrou!” het sr. Meyer gesê.

Sr. Meyer het in 2010 afgetree, nadat sy vir 30 jaar ‘n suster was by die SAVF Tehuis vir Bejaardes. Voor dit was sy ‘n kaptein by 4SAI, waar sy in die siekeboeg gewerk het.

Een ding wat haar pasiënte nooit gekry het nie, was bedsere!

Sr. Meyer sê “bedsere is onnodig. ‘n Bedseer is eintlik ‘n drukseer, want dit begin wanneer ‘n pasiënt vir ure in dieselfde posisie bly lê en te veel druk op een spesifieke area geplaas word. Dit is areas soos die hakke, tone, elmboë, stuitjie en boude.”

Dit is een van die eerste dinge wat ‘n verpleegster leer van basiese pasiëntsorg – om ‘n pasiënt gereeld te draai en te smeer om bloedsirkulasie te verseker en druksere te voorkom.

Wanneer ‘n rooi plekkie op die persoon se liggaam vorm, is dit ‘n aanduiding dat ‘n drukseer besig is om te vorm en dan moet daardie area spesiale aandag geniet met spesifieke medikasie.

“Die gedeelte moet weggelig word van die res van die liggaam, soos om kussings tussenin te pak, dat daardie area nie aan die bed raak nie.”

Sy is baie hartseer oor die “verval by die Middelburg Hospitaal. Kyk net hoe lyk hul gronde buite!”

Sr. Meyer het as jong verpleegster haar algemene opleiding by Middelburg Hospitaal gedoen en haar teater en kraam opleiding by ‘n ander hospitaal.

“Daardie jare was daar kompetisie tussen die hospitale in Middelburg, Witbank en Ermelo wie die beste naam gehad het. Wat my hartseer maak, is dat ek weet hoe hard ons daar gewerk het. Pasiëntsorg was nommer een. Wat gaan nou daar aan?”

Sy is van mening dat die Departement van Gesondheid ‘n intensiewe ondersoek moet doen oor die bewerings wat gemaak word oor die Middelburg Hospitaal.

Lees meer hier:

Die waarheid bly die waarheid

Opvolg: Bets – die statige ouma skou

Vrou lankal dood – Verpleegster sê: ‘vital signs are good’

Vrou se bedsere vrot

Vrou deurtrek van bedsere

Lees hier oor ander klagtes teen die hospitaal.

Back to top button