NewsUpdate

Opvolg: Bets – die statige Ouma Skou

Bets Claassen (77), die vrou wat aan die einde van haar lewe in ’n bedseerdeurtrekte bondeltjie moes sterf, was op haar dag ’n aktrise en ’n vurige vegter om armes te help.

Me. Claassen het Sondag in die Middelburg Hospitaal gesterf.

Sy het nooit gespog nie. Nee, Bets wou net ander help en het nog op die dag wat sy geval en haar heup gebreek het, vir haar mede-inwoners van Vergeet My nie Woonstelle gesê om klere te kom haal wat vir hulle afgegee is.

Bets Claassen was ’n gebore en getoë Middelburger wat haar laerskoolloopbaan aan Laerskool C.R. Swart en hoërskooldae aan Hoërskool Middelburg voltooi het.

Sy het drama studeer, waarna sy in 24 rolprente gespeel het, saam met onder andere bekende sangers en akteurs soos Gé Korsten en Al Debbo.

In hierdie tyd het sy ’n woonstel gedeel met die destydse mej. Suid-Afrika, Mitzi Stander (mej. SA 1968).

Later was sy vir ’n rukkie verloof aan die bekende operasanger, Rudi Neitz.

Een van haar groot passies was musiek en sy het gereeld bekende sangers soos Lance James, Billy Forrest en Bobby Angel, na ons dorp gebring. Daar is ook sterk vriendskapsbande met verskeie sangers gesmee.

James was hierdie week geskok oor haar dood en het gesê “dat dit verskriklik is dat sy so moes sterf.”

“Om Bets te ken, het my lewe verryk. Ek en almal daar in Middelburg en omgewing, gaan haar mis.”

Middelburgers onthou haar as die vrou wat altyd betrokke was by liefdadigheid en ’n helpende hand wou uitsteek. Bets het egter ook baie hard gewerk.

Sy was vyf jaar sekretaresse by die ANC op die dorp, waarna sy later by die DA aangesluit het.

Volgens haar dogter, Regina Dercksen, het sy baie saam met haar ma rondgery toe sy as voorsitter van die raad vir munisipale klinieke die dorpe en klinieke besoek het.

Lees vorige stories hier:

Vrou lankal dood – Verpleegster sê: ‘vital signs are good’

Vrou se bedsere vrot

Vrou deurtrek van bedsere

Lees hier oor ander klagtes teen die hospitaal.

Sy het altyd tyd vir almal gehad en het vir die pret ook ingeskryf vir die mej. en mev. Middelburg Skou kompetisie toe dit die eerste keer by die Kees Taljaard Stadion aangebied is. Sy is sowaar gekroon as Mev. Ouma Skou!

Haar kinders en kleinkinders was haar lewe. Familie het gereeld laggenderwys gesê dat sy “soos matrone van Sewende Laan is! Altyd statig en betrokke by alles!”

Haar kinders het hierdie week tussen haar persoonlike dokumente briefies gekry wat sy vir almal, van kinders, tot vriende, geskryf het. Daar was selfs briewe vir die redakteur, Tobie van den Bergh (wat sy altyd die “mooiste man in Middelburg” genoem het) en die joernalis, Daleen Naude, wat sy altyd as “Daleentjie” aangespreek het.

• Me. Claassen word oorleef deur haar kinders, Sankus, Regina en Gerda, 10 kleinkinders en drie agterkleinkinders.

Die begrafnis is Vrydag om 11:00 uit die PPK Lofdal Gesinskerk (hoek van SADC- en Meyerstraat).

Back to top button