News

My Lief: ‘Daar’s ‘n mamba in ons kamer!’

'n Reuse swartmamba het deur 'n venster geseil en lêplek in 'n egpaar se kamer gaan soek.

“Toe ek in die gang afkom, toe wéét ek dit is ‘n swartmamba, want ek het dadelik die skerp kerriereuk gekry!” sê slangkenner Victor Boshoff.

Hy is Maandagaand omstreeks 22:30 gekontak met die nuus dat ‘n egpaar uit hul kamer moes vlug, omdat ‘n groot slang deur ‘n venster by hul kamer ingeseil het.

Mnr. Pieter Engelbrecht vertel dat hy omstreeks 22:00 besig was om deure te sluit en vensters toe te maak om te gaan slaap. Hy is in by hul kamer, waar sy vrou, Antonnette, reeds in die bed was. Die kamer se hooflig was af, maar haar bedliggie was aan.

Voordat hy die kamervenster kon toemaak, het hy skielik gehoor dat hul Yorkshire Terriër, Bella, uit haar hondebedjie knor. Mnr. Engelbrecht het gekyk in die rigting waar die hond knor en dadelik die slang gesien. “Hy was al oppad om in die rigting waar ons bed en yskas in die kamer staan, te seil!”

Hy het sy vrou beveel om versigtig uit die bed te klim, waarop hulle die honde geroep en by die deur uitgevlug het. Mnr. Engelbrecht het met ‘n stok die kamervenster toegemaak, sodat die slang in die kamer vasgekeer kon word.

“Die oomblik toe ons buite die kamer staan, het ons besef dat albei ons selfone, voertuigsleutels, asook ons wapens soos die gaspistool en geweer, in die kamer was!”

Mnr. Engelbrecht het ‘n spaarsleutel in die huis gekry en gejaag na ‘n buurman, vanwaar hulle mnr. Boshoff gekontak het. “‘n Mens ry gewoonlik 45min van die dorp af na ons plaas toe, maar Victor was binne 32 minute op die plaas.”

Mnr. Boshoff sê swartmambas het ‘n kenmerkende skerp kerriereuk. Hy kon egter sy oë nie glo toe hy die slang beetkry nie. “Ek het getrek en getrek en die hele tyd het sy lyf net uitgekom! Dit is ‘n reuse slang. Hy is ten minste 3.2m lank en weeg beslis sowat ses kilogram.”

Mnr. Engelbrecht sê van sy werkers het verlede jaar laat weet dat hulle ‘n mamba in ‘n stoor op die plaas gesien het. Hulle kon egter nooit die slang opspoor nie, tot Maandagaand wat hy sommer self huistoe gekom het!

Hy sê dat hulle die afgelope jaar al twee Mosambiekse spoegkobras op die plaas moes doodmaak.

• Die Klipfonteinplaas is 35km buite die dorp geleë. Alhoewel die afdraai maar net sowat 19km buite Middelburg is op die Loskopdampad, ry ‘n mens ‘n hele ent in op die grondpad, tot waar die gebied meer Bosveld word. Mnr. Boshoff het gesê dat dit vir hom vreemd was om ‘n mamba so naby aan Middelburg te kry.

• In September 2015 is ‘n mamba van 2.85m in ‘n motorhuis in Zuidstraat gevang. Die slang het vanaf ‘n wildsplaas anderkant Loskopdam in ‘n motorenjin saam gependel na Middelburg.

Hierdie mamba is ook nog by mnr. Boshoff se huis, aangesien die reptiel ‘n besering gehad het, wat hy gesond moes dokter.

Mnr. Boshoff het aangedui dat hy die slang wat hy Maandagaand gevang het nog moet ondersoek om te kyk of hy nie beserings het nie. As die slang gesond is, gaan hy hom, asook die een wat verlede jaar gevang is, in die Laeveld loslaat.

Die slang mag nie hier in die Hoëveld losgelaat word nie, aangesien dit nie mambas se natuurlike habitat is nie. Volgens mnr. Boshoff dui navorsing aan dat slange tot 100km ver kan terugkeer van waar hulle kom en dit is die rede dat hy die slange in die Laeveld, wat meer as 200km ver is, sal loslaat.

• Swartmamba’s se gif is erg neurotoksies en word gesien as Suid-Afrika se giftigste slang. In die geval waar ‘n persoon gebyt word, moet anti-serum toegedien word, anders sal die slagoffer beslis sterf.

‘n Swartmamba is ook baie aggressief en sal aanval en pik as hy vasgekeer word. “Dit is egter nonsens dat die slang jou sal jaag. Dit sal wel lyk of hy jou jaag as jy in dieselfde rigting hardloop as wat sy nes/gat geleë is!”

• Die Engelbrecht egpaar wil graag mnr. Boshoff bedank wat so vinnig by hul huis was om die slang te vang.

• Mnr. Boshoff is die voorsitter van die Mpumalanga afdeling van die LimPuma Herpetologiese Vereniging.

• Mnr. Bernard van der Berg is Woensdag deur mnr. Boshoff gekontak om hulp te gaan verleen by ‘n huis in Dennesig waar ‘n slang opgemerk is (mnr. Van der Berg het ‘n slangvangkursus by mnr. Boshoff gevolg). Mnr. Boshoff was op daardie stadium uitstedig.

Met mnr. Van der Berg se aankoms by die woning in Helen Josephstraat, was senior insp. Petro Oberholzer (Bestuurder, Middelburg DBV) ook daar. Mnr. Van der Berg sê hulle het op ‘n stadium die slang, ‘n klein nagaddertjie, gesien, maar hy het só vinnig weggeseil dat hulle hom nie weer kon opspoor nie. Die huis is naby die Dennesig dammetjies geleë.

Back to top button