NewsUpdateBreaking News

Opvolg: Ouers staar nou kriminele klagte in gesig

Daar is Maandag 'n kriminele klag van kinderverwaarlosing teen die ouers van drie jong kindertjies, wat voorverlede week onder polisiebewaking uit hul sorg verwyder is, aanhangig gemaak.

Die paartjie is egter nog nie formeel aangekla nie, het die polisie Donderdag bevestig.

Hulle word daarvan beskuldig dat hulle selde hul kinders gevoer het, wat daartoe gelei het dat hul 7-dae oue babaseuntjie in die hospitaal opgeneem moes word vir wanvoeding, dehidrasie en geelsug.

Die baba was so siek dat ‘n ambulans voorverlede Woensdag na die huurhuis ontbied is deur die welsyn, wat ondersoek gaan instel het na die bewerings van kinderverwaarlosing.

Die pa van die kinders het Maandag sy stilswye verbreek en ontken al die bewerings teen hom en sy vrou.

Hy het onderneem om die Middelburg Observer deur die huurhuis wat hulle met die kinders se bedlêende ouma deel, te neem om te bewys dat dit nie so vuil is soos bronne na aan die gesin beweer nie.

In die oprit van die huis het ‘n reuse hoop swartsakke gelê tydens die Observer se besoeke, hoewel die koerant telkens voor dooiemansdeur te staan gekom het.

Teen Donderdag het die pa sy belofte om die Observer by die huis in te neem steeds nie gestand gedoen nie, en ook nie op die koerant se boodskappe reageer nie.

Die ouers sien hul babaseuntjie, sy 9-maandoue boetie, en hul 8-jarige sussie, 15 minute daagliks onder die wakende oog van ‘n maatskaplikewerker. Plekke vir veilige bewaring is reeds vir al drie die kinders gevind.

Die pa erken dat die dogtertjie nog nooit skool toe is nie, en sê sy was op een geleentheid net een voldag in die kleuterskool voordat sy huistoe gestuur is, en op ‘n ander geleentheid vir twee ure kleuterskool toe, voordat hulle gekontak is om haar te kom haal.

Die meisietjie het volgens hom geen beheer oor haar maag nie en bevuil haar steeds soos ‘n baba.

Hy kan egter nie oortuigend sê wat die probleem is nie, behalwe dat dit glo sedert haar geboorte so aangaan.

Die dogtertjie ondergaan tans talle mediese ondersoeke terwyl die pasgebore babatjie ook nog nie uit Midmed ontslaan is nie.

Volgens die pa het ‘n gesinsvriend, wat hy nie wou identifiseer nie, die welsyn op hulle gesit “in ‘n poging om my twee seuntjies vir haarself te kan kry”.

Die pa beweer dat die kinders by familie is en dat hy insae gehad het na waar die welsyn hulle uitplaas.

Die ouers van die kinders was Maandag weer in die hof waar die kinderhofsaak uitgestel is tot 21 April. Intussen sal die kriminele saak verwys word na die polisie se kinder-, gesins- en seksuele geweldseenheid vir verdere ondersoek.

• Die gemeenskap het sedert die Observer verlede week oor die saak berig het, na die SAVF welsynskantore opgeruk met melk en doeke vir die seuns.

“Ons het genoeg melk, klere en doeke vir die kinders maar benodig dringend fondse vir die babaseuntjie se hospitaalkostes, en mediese, sielkundige en opvoedkundige uitgawes vir die dogtertjie,” sê maatskaplikewerker me. Marna Cronjé.

Diegene wat wil bydra tot die baba se hospitaalkostes kan bydraes direk by die hospitaal rekening wat vir hom oopgemaak is, inbetaal: Middelburg Privaat Hospitaal – FNB Global Transactional Service – rekeningnommer 62329139605 – takkode 255005 – met verwysing 280784. Betalingsbewyse moet gefaks word na 086 592 5685.

• Geldelike bydraes vir die dogtertjie word by die SAVF welsynskantore gemaak. Alle donasies word streng deur die welsynskantoor bestuur.

Elektroniese donasies kan ook gemaak word vir die kinders by die volgende rekening: SAVF Middelburg – Absa tjekrekening – rekeningnommer 1040810044. “Ons bedank die gemeenskap uit die hart vir die onbaatsugtige ondersteuning tot dusver,” sê me. Cronjé.

• ‘n Bedrag van R5 000 is ook die week uit die Dorp van die Jaar opbrengste verlede jaar, vir die versorging van die dogtertjie geskenk.

Shocking child abuse, neglect expose

Ouers eet, kinders kyk…

Opvolg: Kindermishandeling – Al drie kinders veilig

Send a message to our SMS line 37 940 or add us onto Facebook and Twitter @Mobserv to receive your free daily news updates.

Also check out our Video’s on Youtube daily!

.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button