NewsUpdate

Video: Inbreker kom sy moses tee met boerboel

Dramatiese video materiaal van hoe ’n boerboel en inbreker baklei is deur die eienaar van die reeds bekende Boela beskikbaar gestel. Intussen het nog ’n vrou vertel hoe haar hond boosdoeners afgeskrik het.

Die Observer het pas die sekuriteitsvideo gekry waar die dief wat Boela in sy eienaars, die Steenkamps, se erf in Blackmorestraat platgetrek het.

Daar kan gesien word hoe die booswig vanaf Suidstraat se kant aan die agterkant van die erf oor die muur spring.

Daarna skrik hy effens as die gesin se boerboelteef vanuit die oop buite-toilet vir hom blaf. Hy kom egter gou agter sy is nie eintlik aggressief nie en met handgebare paai hy haar.

Hy vroetel met ’n waentjie wat buite staan, maar alles is vasgeketting en hy besluit om óm die huis te gaan om te kyk of daar nie iets anders is wat hy kan buit nie.

Die oomblik wat hy vorentoe stap om na die ander kant van die huis te beweeg, storm Boela hom en trek hom plat. In die geveg kan jy sien hoe hy die hond skop en slaan met ’n stuk yster en hom ook aan sy ore beetkry.

Hy probeer selfs weghol, maar kom nie weer oor die muur nie, aangesien die hond hom terughou.

Al bakleiende met die hond beweeg hy na die voorkant van die huis, waar hy op die sementtafel klouter en vir hulp roep.

• Die gedeelte waar Boela hom aan die agterkant van die erf verras en beetkry, kan gesien word:

• Net ’n blok vanaf die Steenkamps, het nog ’n boerboel, Sunnybill, diewe laat spaander.

Mnr. en me. Stefan en Lindi van Rooyen is Vrydag omstreeks 03:45 gewek met Sunnybill se geblaf. Hulle het dadelik besef daar is fout, aangesien Sunnybill nooit blaf nie.

Die oomblik toe mnr. Van Rooyen by die spaarkamer se venster uitkyk, het Sunnybill stertswaaiend by die venster gestaan en blaf. “So asof hy wou sê: kom kyk wat het ek gedoen!”

Mnr. Van Rooyen is na buite, waar hy ’n hoop artikels in die erf gekry het.

Op hierdie stadium was daar al pandemonium in die kompleks, aangesien ’n kuiergas by een van die ander meenthuise (wat in die motorhuis oorgeslaap het) laat weet het dat hy die twee diewe in die motorhuis gesien het.

Die booswigte het by drie motorhuise ingebreek en verskeie artikels, waaronder veiligheidstewels en gereedskap, gesteel.

Die persoon wat in die motorhuis gelê en slaap het, het later gesê dat hy wakker geword het toe die diewe by die motorhuis inkom, maar doodstil bly lê het, omdat hy gevrees het vir sy lewe.

Die diewe is vandaar na die Van Rooyens se erf, maar net daar het hulle hul vasgeloop in Sunnybill. Dit blyk dat hy hulle gejaag het, waarop hulle al die gesteelde artikels net daar neergesmyt en weggehol het.

“Almal het gekla oor Sunnybill in die kompleks, maar ná sy heldhaftige optrede, is hy nou almal se held!” het me. Van Rooyen gesê.

• Die diewe het toegang tot die kompleks gekry van agter af, waar hulle op ’n afdak geklim en net bo-oor die kompleks se elektriese heining geklouter het.

Hul voetspore is aan daardie kant gekry. Die vermoede bestaan verder dat hulle lopers gehad het vir die motorhuisdeure, aangesien die deure nie beskadig is nie.

Lees vorige berig hier:

Dief kom sy Boela teë

Send a message to our SMS line 37 940 or add us onto Facebook and Twitter @Mobserv to receive your free daily news updates.

Also check out our Video’s on Youtube daily!

 

Back to top button