CrimeUpdate

Mduduzi skuldig

Mduduzi Nkosi is Maandagoggend in die hooggeregshof skuldig bevind op die moord van mnr. Johan Venter, die man wat bykans ses jaar gelede koelbloedig in sy kamer doodgeskiet is.

“Dit is uiteindelik klaar! Dank die Here daarvoor. Ons kan die boek afsluit en aangaan met ons lewens,” het me. Rentia Venter kort na die uitspraak gesê.

Regter Justice Moshidi het Nkosi skuldig bevind aan moord, poging tot moord, huisbraak met die opset om te roof en onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie.

Mnr. Venter is die nag van 22 November 2010 in sy slaapkamer doodgeskiet en sy vrou, Rentia, ernstig gewond.

Kort na die verhoor in 2013 teen Nkosi begin is, het hy ontsnap en is eers weer vroeg vanjaar gearresteer.

Regter Moshidi het verlede week tydens ‘n binneverhoor bevind dat alle bewysstukke, wat die verdediging betwis het, wel aanvaar word.

Een hiervan was onder andere ‘n bekentenis wat Nkosi na die moord destyds teenoor kol. Danie Hall gemaak het.

Net ‘n paar dae na mnr. Venter se moord, is Nkosi, Given Chisiko en Bheki Mthetwa gearresteer. Chisiko het skuldig gepleit en is 30 jaar tronk toe gestuur. Chisiko het Nkosi as medepligtige uitgewys. Mthetwa is aan natuurlike oorsake in aanhouding dood.

Minute nadat regter Moshidi vir Nkosi skuldig bevind het aan die genoemde klagtes, is daar WhatsApp boodskappe uitgestuur met onder andere dié woorde: “Baie, baie geluk. Well done Eric! Jy was ‘n ster!” en “Die reg het Nkosi ingehaal. Hy kon nie daarvan ontsnap nie!”

• Die saak is uitgestel vir vonnisoplegging.

 
Back to top button