News

Louis wil breek van breuk

Wat doen jy as jy 'n breuk het wat so groot is, dat dit besig is om jou longe te rek en jou hart uit jou borskas te trek?

Louis Greyling se breuk is so swaar, hy kan net sowel permanent ‘n kind saam met hom rond dra. Toe hy dit ophou vir die foto, kan jy die inspanning in sy gesig sien, om die gewig vir ‘n wyle bo te hou.

Geen hemp is lank genoeg om dit te bedek nie en buiten vir die gesondheids- implikasies, kan hy nie die huis verlaat sonder dat almal na hom staar nie.

Nie ‘n vlugtige kykie soos as jy ‘n vlek op jou gesig of skeel oë het nie, ‘n openlike staar met monde wat oophang, vingers wat wys en mense wat agter bakhande fluister.

Die moeilikheid het 19 jaar gelede begin toe hy aan diens by Eskom ‘n klein maagbreuk opgedoen het, vertel mnr. Greyling.

Van daar het die breuk oor die jare net erger geword. Later het die maatskappy aangevoer dat die besering nie by hulle gebeur het nie. Vandag sit mnr. Greyling met ‘n breuk groter as ‘n rugbybal, dalk twee.

Van ‘n mediese fonds is daar nie sprake by die Greylings nie. ‘n Mediese fonds is nie ‘n opsie as jy partymaal vir ‘n dag of wat sonder kos moet deurgaan nie.

Geen werkgewer wil hom aanstel nie omdat die breuk ‘n reuse veiligheidsrisiko is.

Die staatshospitale skram weg van die reuse operasie.

“Hulle sê hulle het nie ‘n dokter wat dit kan doen nie. Toe ek in Amanzimtoti was het hulle daar gesê daar is nie ‘n dokter in Natal wat die operasie sal wil aanpak nie. Behalwe ‘n privaat een in Richardsbaai en hy vra te veel geld.”

Mnr. Greyling het eindelaaste met ‘n privaat dokter in eMalahleni genader wat bereid is om die operasie te doen. Vyf jaar gelede sou dit R30 000 kos. Maar vir vyf jaar spook die Greylings om die pot aan die kook te hou. R30 000 is vir hulle groot geld.

Tydens die tydsame operasie sal van die weefsel wat om die ingewande gevorm het versigting weggeskraap moet word. Die ingewande sal dan versigtig terug in mnr. Greyling se buik geplaas moet word en die breuk toegemaak word.

Indien daar iemand is wat raad of uitkoms vir mnr. Greyling se probleem het, kan hulle die Middelburg Observer kontak by 013 243 1434 of 072 248 3855 of ‘n e-pos stuur aan jana@mobserver.co.za.

Back to top button