Crime

Deurrukker kom moses teë

'n Deurrukker wat 'n sestienjarige dogter se selfoon gegryp het, het Saterdag sy moses teëgekom, maar het uit vrees vir sy lewe losgeruk en gevlug.

Me. Loreen Ferreira was vol lof vir al die mense wat so vinnig opgetree het nadat haar dogter, Yentl (16), se selfoon gegryp is deur ‘n booswig wat haar deur oopgeruk het.

Yentl het saam met haar ousus, Simone Bessell (26), gery om haar vriendin, Annika Swanepoel (16), te gaan haal om by hulle vir die middag te kom kuier. Die twee jonger dogters is albei leerlinge aan HTS Middelburg.

Hulle het afgery in John Magagulastraat en moes stop by die rooi verkeerslig by die SADC-kruising. Yentl, wat voor langs Simone gesit het, het haar Samsung Note 4 selfoon bo op haar skoot gehad en het gesit en musiek luister.

Op dieselfde oomblik wat die lig groen slaan, het Yentl se deur oopgevlieg en is haar selfoon van haar skoot af gegryp.

Sy het dadelik reageer, uitgespring en agter die dief, wat in die teenoorgestelde rigting gevlug het in John Magagulastraat, aangehardloop.

Simone het ‘n U-draai probeer maak om haar suster te hulp te snel, waarop sy dadelik opgemerk het dat nóg twee voertuie dieselfde doen om hulle te help.

Mnr. en me. Peet en Nicolene Smith het in hul tru-spieëltjies gesien wat gebeur en hul voertuig omgedraai om te gaan help. Mnr. Jurie Jacobs het op sy beurt ook sy voertuig omgedraai en uitgespring om die dief te probeer vang.

Yentl het al die dief ingehaal, waar hy probeer het om by ‘n voertuig in te klim. Die oomblik toe die meisie aan hom raak, het hy wéér omgespring en afgehardloop in die pad. Dié keer met mnr. Jacobs kort op sy hakke.

Simone het gesien waarheen die dief hol en het reguit in sy rigting gery. Hy het egter agter haar kar verbygehardloop en om die hoek in SADC-straat verdwyn. Sy was baie bekommerd, aangesien sy gesien het dat hy in die hardloop besig was om sy baadjie uit te trek en hulle hom dalk nie weer sal herken nie.

Mnr. Jacobs het die dief egter nooit uit die oog verloor nie en hom vasgetrek in Jet. Toe hy hom terugbring na waar almal gestaan en wag het, het chaos uitgebreek. Hordes omstanders het nadergehardloop en geskree: “Skiet hom, maak hom dood!” Een man het ook nadergestaan met ‘n sweep.

Met ondersoek het hulle agtergekom dat die dief die selfoon iewers moes verloor het, want dit was nie meer by hom nie. Die groep se dreigende houding het hom laat losruk, waarop hy die hasepad gekies en in die massa verdwyn het.

Mnr. Jacobs het teruggekeer na Jet, waar hy die selfoon onder een van die winkelrakke, waar die dief dit ingegooi het, gevind het.

Op hierdie stadium was Yentl en Annika baie bewerig en senuweeagtig tussen die massas mense. Simone het gesien dat Yentl ‘n lelike stukkende plek op haar hand het waar die dief haar gekrap het, toe hy die selfoon gegryp het.

Mnr. Smith het sy voertuig só getrek dat die meisies ongedeerd in hul voertuig kon terugklim en agter hulle aangery totdat hulle veilig by die huis ingedraai het.

“Dit is nie lekker dat ‘n mens bang is in jou eie dorp en agter geslote deure en vensters moet ry nie. Almal se hulp Saterdag is net ‘n bewys dat almal moeg is vir die misdaad. Hulle (die diewe) moet besef dat ons dit nie meer gaan toelaat nie! Yentl kon noodlottig beseer gwees het, maar met julle almal se bystand het sy niks oorgekom nie. Baie dankie!” het me. Ferreira dankbaar gesê.

• Die afgelope paar maande is verskeie vroue se kardeur oopgeruk. Tydens een voorval is ‘n vrou in haar voertuig gewurg, terwyl sy makkers buit gemaak het op haar selfoon.

Video: Vatso jou skelm!

Video: Ken jy die aanvallers?

Video: Man killed in cold blood

Executed in front of wife

Send a message to our SMS line 37 940 or add us onto Facebook and Twitter to receive your free daily news updates.

Also check out our Video’s on Youtube daily!

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button