News

K-woord lei glo tot geveg

'n Plaaslike inwoner sê dat hy Saterdag so erg deur twee verkeersmanne aangerand is, dat hy hom Maandag skaars uit die bed kon help.

Mnr. Marius Venter sê dat hy en sy verloofde, Adri, Saterdagaand gou ‘n drankie by Amazon’s Restaurant gaan geniet het, kort voor middernag het hulle voor die verkeersman by McDonald’s se deurry gestop, om kos te kry op pad huis toe.

“Hy het skielik agter my alarm gemaak, en ek het my aanvanklik nie daaraan gesteur nie, want hy het in sy motor bly sit,” vertel mnr. Venter.

Hy het gesien een van sy motorfietsbande was effens pap, en Adri het in die lyn agter gebly terwyl hy vinnig na die Total vulstasie oorkant die pad is om sy band te pomp.

Terug by McDonald’s het hy die motorfiets voor die restaurant parkeer en na die verkeersman, wat steeds in die deurry was, gestap om te hoor of iets fout is.

“Ek het hom beleefd gegroet toe hy die venster afrol, waarna ek vir hom gevra het hoekom hy my aandag wou trek, dis toé dat hy my beskuldig dat ek hom die k-woord toegesnou het,” vertel mnr. Venter.

Mnr. Venter het die bewering teen hom ten sterkste ontken en gesê dat hy slegs bewus geword het van die geregsdienaar toe hy alarm agter hom maak.

“Daarna het hy beweer ek probeer hom uittart, wat beslis ook nie die geval was nie.” Hy sê die volgende oomblik het die verkeersman en ‘n kollega hom bestorm, met pepersproei gespuit, hom geslaan en geskop, en toe hy op die grond gedwing is, is daar na bewering ook op sy rug gespring.

Intussen is die polisie ook ontbied en mnr. Venter is geboei en polisiestasie toe geneem.

Hy is toegesluit en is eers Sondag omstreeks 10:00 op borg van R1 500 vrygelaat.

Hy moet in Januarie in die hof verskyn, en is steeds in die donker oor wat hy gesondig het.

“Ek het geen verkeersoortreding begaan nie, as ek nie by die verkeersman gaan navraag doen het oor die sirene nie, het ons elkeen vreedsaam ons eie rigting ingevaar,” sê mnr. Venter.

Die waarnemende veiligheidshoof, me. Pamela Mkosi, sê dat sy sal ondersoek instel na die voorval, maar dat sy verkieslik wil wag vir die hof voordat dissiplinêre stappe oorweeg word.

“Intussen vra ek dat mnr. Venter ‘n skriftelike klag teen die beamptes, by die munisipale bestuurder, mnr. Mandla Mnguni, sal inhandig vir ondersoek,” sê me. Mkosi.

Mnr. Venter sê dat hy beslis regsaksie teen die betrokke beamptes en die munisipaliteit gaan neem na afloop van die hofsaak, wat hy glo deur die hof uitgegooi gaan word.

Lees verwante stories hier:

Geen blaastoestel beskikbaar

Video: Nog skokkende magsmisbruik

Send a message to our SMS line 37 940 or add us onto Facebook and Twitter to receive your free daily news updates.

Also check out our Video’s on Youtube daily!

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button