Update

Opvolg: Wat het van Frikkie geword?

Frikkie Lutzkie, Middelburgse sakeman, is verlede jaar in Junie vir weke in 'n Zimbabwiese tronk aangehou en aangekla nadat sy helikopter op die plaas Doddieburn Ranch in Gwanda, Zimbabwe, neergestort het.

Bykans ‘n jaar later wonder almal: “Wat het van Frikkie geword? Is hy nou in Zimbabwe in die tronk?”

Mnr. Lutzkie het ‘n eksklusiewe onderhoud aan die Middelburg Observer toegestaan.

Van gaan lê, wil die suksesvolle sakeman niks weet nie. Hy is terug op Doddieburn Ranch waar owerhede hom met ope arms verwelkom het. Tans is hy klip hard aan die werk om die plaas verder te ontwikkel en die skade wat aangerig is terwyl hy nie daar was nie, te herstel.

Buiten vir Doddieburn het mnr. Lutzkie nog ‘n groot projek in sy visier.

Hy sê dat hy drie jaar terug uit Middelburg weg is om aandag te skenk aan die ontbloting van wat hy “‘n massiewe sindikaat” noem wat lede van die polisie, die Nasionale Vervolgingsgesag, asook Landbank insluit.

“Ek het nou genoeg bewyse. Ons bring binne die volgende paar weke ‘n aansoek voor die hof om die staat te dwing om met vervolging voort te gaan. Daar is so baie bewyse, selfs ‘n standerd ses kind sal dit kan verstaan.”

Hy beweer dat persone betrokke by die sindikaat, agter ‘n fyn beplande mediaveldtog sit, wat hom name soos onderwêreld magnaat, hokvegter en kriminele meesterbrein noem.

“Ek het ‘n video-opname van hoe ‘n bekende joernalis aan my erken dat hy al sy informasie van twee mans gekry het. Hulle val mense in die media aan wat vir hulle struikelblokke word.”

Die Middelburg Observer self het al twee maal deurgeloop. In die eerste voorval is ‘n joernalis gedreig, dat sy haar werk sal verloor indien sy nie na wense skryf nie en tydens die tweede voorval is ‘n anonieme oproep ontvang met ‘inligting’ oor die voorval waarin bekende advokaat Jaap Cilliers met ‘n vloeistof in die boud gespuit is.

Toe die inligting opgevolg is, was dit ongegrond en is die nommer opgespoor tot by een van die sakemanne waarmee mnr. Lutzkie in ‘n bitter hofgeding gewikkel is.

Mnr. Lutzkie was al in twee omstrede helikopterongelukke betrokke. Oor die eerste ongeluk, in Mei 2012, sê hy dat daar ‘n fout met sy helikopter se brandstoflyn was en dat dit as gevolg daarvan neergestort het.

Hy het die helikopter se lemme afgesaag en dit met takke bedek.

Tydens die tweede ongeluk in Mei 2014 het hy die helikopter begrawe en daarna die Zimbabwiese burgerlugvaart in kennis gestel.

“Hoe dink jy het hulle die ongelukstoneel gekry? Ek het my mense aangesê om hulle te gaan wys waar dit is. As ons hulle nie gewys het nie, sou hulle nou nog gesoek het. Hoekom sou ek dit doen as ek iets wou wegsteek?”

Mnr. Lutzkie sê dat dit volgens wet ‘n vlieënier se verantwoordelikheid is om die wrak en mense in die omgewing ten alle koste te beskerm. Hy voer aan dat dit sy motief was toe hy tydens beide voorvalle die wrakke versteek het.

• Lourens Botha, voormalige Doddieburn Ranch bestuurder, is in Augustus verlede jaar in Zimbabwe skuldig bevind vir die diefstal van onder andere ‘n kragopwekker. Hy en sy seun Lourens (junior), is ‘n boete van 300 Amerikaanse Dollar opgelê.

Mnr. Lutzkie het as staatsgetuie opgetree.

• Die name van die joernalis en redakteur, sowel as die man wat daarvan beskuldig word dat hy agter die smeerveldtog sit, kon nie genoem word nie, omdat hulle nie voor druktyd vir kommentaar bereik kon word nie.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button