News

Wat stink so?

As jy 'n vreemde reukie kry van iets so tussen knoffel en 'n vrot eier, dan moet jy weet, Dennesig se muishond loer dalk by die deur in!

En moenie dink dit is ‘n wolhaarstorie nie, want dié stink knaap het Vrydagaand net na tien in Harry Gwalastraat rondgedwaal, reg voor die oë van me. Charlene Liebenberg.

Sy kon nie haar oë glo nie en het stadiger gery waar die lang draai vanaf Sipres verander in Harry Gwalastraat (Dennesig). Die volgende oomblik het sy die muishond opgemerk in die pad. Hy het hardekwas sy stert opgelig en rustig oor die pad geloop tot in die veld.

“Ek het altyd gedink hulle is baie groter, maar hy was omtrent so groot soos ‘n uitgegroeide huiskat.”

Sy vermoed dat die muishond moontlik agter mense in die omgewing se hondekos aan was. Nadat sy haar ondervinding op Facebook gedeel het, het verskeie mense kommentaar gelewer. Daar is onder andere gemeld dat daar onlangs in dié omgewing ‘n muishond doodgery is en dat hierdie een “waarskynlik na sy maatjie gaan soek het.”

Me. Liebenberg het vroeg hierdie week laat weet dat sy ook ‘n hele familie meerkatte opgemerk het wat hul intrek geneem het in die veld oorkant die hoeke van Harry Gwala- en Verkennerstrate. Sy het ses van hulle gesien toe sy daar verby ry.

Hul gesin sien ook gereeld springhase wat van die veld af oor die pad hardloop.

• Deur inligting wat verkry is vanaf die internet, word gesê dat ‘n muishond sy ‘sproei’ tot drie meter ver kan spuit. Dit ruik na ‘n mengsel van knoffel en vrot eiers en dit is byna onmoontlik om dit uit jou klere te kry as jy ‘n blerts daarvan gekry het.

• Die Observer het in die laaste paar jaar al verskeie stories gedoen as wilde diere vir konsternasie in en om die dorp gesorg het.

In die mees onlangse voorval, gedurende November, het twee vlakvarke (wat in Kanonkop en Dennesig gesien is) die inwoners op hol gehad en het ‘n paar mense agter hulle aangehol. ‘n Hond het ook die hasepad gekies toe hy die vlakvark sien. Selfs die Kanonkop/Dennesig/Middedorp radiogroep is laat weet en moes ‘n waarskuwing uitstuur!

Dit is egter nie nét muishonde, meerkatte en vlakvarke wat al gesien is nie.

Daar is al berig oor bruin hiënas, ‘n muskeljaatkat, otters, bosvarke, likkewane, ‘n krokodil, ‘n renoster (op die N4), mamba’s en selfs bobbejane wat deur die strate gehol het.

• Lees elders hoe ‘n pofadder ‘n gesin op ‘n plaas buite Middelburg se geliefde Jack Russell hondjie gepik en die hond later gevrek het.

Back to top button