Bende verkrag meisies

Polisie soek na voortvlugtendes 'n Vinnige wegneemete uitstappie het Vrydag die 13de Februarie in die brutale bendeverkragting van twee tienermeisies in 'n veld langs die Mall geëindig.

Twee van vyf mans wat die meisies om die beurt verkrag het, het Dinsdag in die hof verskyn en bly tans in aanhouding.

Die meisies kon mekaar se gille hoor, terwyl twee mans die een, en drie mans die ander, om die beurt verkrag het in die donker veld.

Volgens kapt. Khanyisile Zwane is die dogters, onderskeidelik 17 en 18, by ‘n bekende plesieroord op ‘n bromponie weg vir kos omstreeks 22:00. Die oord se naam word weerhou omdat dit hulle kan identifiseer.

Een van die slagoffers is woonagtig by die oord, en die meisies het laataand besluit om by die Spur by die Mall aan te klop vir wegneemetes.

‘n Wit motor, moontlik ‘n Toyota Corolla of Nissan Sentra, met getinte vensters, het voor hulle gery.

By die tweede verkeersirkel langs McDonald’s, het die voertuig skielik stilgehou en die meisies het ook rem aangeslaan.

Vyf mans het uit die voertuig gespring, hulle oorrompel, deursoek, die veld ingesleep en verkrag.

Vroue het Maandag teen geweld teen vroue betoog by die landdroshof waar mev. Ronel Botma op 'n moordklag verskyn. Sy is na bewering erg deur haar man mishandel en onder andere aan 'n motorhyser opgehang. In dieselfde week is twee meisies wreed verkrag. FOTO: Gerhard Rheeder.
Vroue het Maandag teen geweld teen vroue betoog by die landdroshof waar mev. Ronel Botma op ‘n moordklag verskyn. Sy is na bewering erg deur haar man mishandel en onder andere aan ‘n motorhyser opgehang. In dieselfde week is twee meisies wreed verkrag. FOTO: Gerhard Rheeder.

Hulle is in die veld gelos, terwyl van die mans die veld in verdwyn het, wyl die ander met die bromponie en motor die hasepad gekies het.

Hulle is ook van hul rugsakke met klere, kontant, selfone en valhelms beroof.

Die meisies het terug geloop na die oord en op pad daarheen by ‘n myn se sekuriteit gaan aanklop vir hulp.

Hulle is tot by die oord geneem, waar die polisie gebel is.

Die polisie het Sondag, 15 Februarie, inligting ontvang dat iemand by die Vaalbank plakkerskamp met ‘n selfoon en valhelm by sy vriende spog.

Hy is in hegtenis geneem, ondervra en sy woning is deursoek. ‘n Valhelm, selfoon en twee rugsakke is by hom gevind.

Die verdagte beweer dat hy die valhelm by een van sy vriende in eMalahleni gekry het. Dié vriend het glo vir hom gevra om ‘n koper vir ‘n bromponie te soek, en vir hom die valhelm gegee as bewys dat die fiets bestaan. Hy het die vriend se adres in eMalahleni, by die Old Coronation, aan die polisie bekend gemaak.

‘n Valhelm is ook by dié man se woning gevind en ook hy is in verband met die brutale verkragtings in hegtenis geneem.

Tydens ondervraging het dit aan die lig gekom dat die bromponie by een van sy vriende gelaat is.

Twee tieners is in dié veld voor die Mall verkrag.
Twee tieners is in dié veld voor die Mall verkrag.

Hy het glo by dié vriend geld geleen en die bromponie by hom gelos, as waarborg dat hy hom sal terugbetaal, sodra hy ‘n koper vir die bromponie sou kry. Die polisie het die bromponie by ‘n werkswinkel in Pine Ridge teruggevind.

Een slagoffer is skoolgaande by ‘n plaaslike hoërskool. Beide is vir mediese ondersoeke geneem.

Die twee verdagtes sal op 25 Februarie in die hof verskyn vir ‘n formele borgaansoek.

Hulle word aangekla van roof, verkragting en diefstal van ‘n motorfiets. Omdat dit ‘n seksuele misdryf is, mag hulle name nie bekend gemaak word, voordat hulle nie pleit nie.

Die net span al wyer om die drie voortvlugtende verkragters en die polisie werk onverpoosd om die booswigte agter tralies te kry.

•Om kommentaar te lewer op die berig sms die woord verkrag na 37940 en daarna jou kommentaar. ‘n Sms kos R1.50.

Back to top button