News

Dwelms, moord, Oorwinning

"Ek het al iemand doodgeskiet. Ek het al gesien hoe 'n meisie 'n miskraam kry. Dit was 'n avontuur. Maar ek is bly dit is verby en ek leef nog om die storie te vertel."

‘n Inwoner het hierdie week vertel van haar lewe van dwelmmisbruik, bendes en die wonder dat sy nog leef. Marlise* (41) kyk jou bankvas in die oë as sy met jou praat. Sy rook ‘n vinnige sigaret voor ons met die onderhoud begin, amper asof sy hoop dit gee haar moed.

“Ek was van kleins af ‘n moeilike kind, het begin rook toe ek 12 is, toe my ouers geskei het. Van daar het ek van die een na die ander getrek. As die een nie meer met my kon huishou nie, was dit die ander een se beurt.”

Marlise is die tweede van vier kinders. As jong meisie was sy ‘n kranige sportvrou wat provinsiale kleure in atletiek en netbal verwerf het. Sy het in Tygerberg skoolgegaan tot die skool in 1989 toegemaak het, toe sy in standerd agt was.

“Toe is ek ook sommer uit die skool uit. Ek wou nie weer teruggaan nie. Ek was nooit ‘n goeie student gewees nie, ek was ‘n boelie. Mense het kringe om my geloop en my volgelinge het gedoen wat ek sê. Ek was baie jonk toe ek al grootmens dinge begin doen het. ”

Kort nadat sy op 16 uit die skool is het sy en haar broer gereageer op ‘n advertensie, en ‘n kursus deur Sun International gedoen. Hulle het in “roaming casinos” begin werk.

Dit was die vroeë 90’s en dobbelhuise was nog onwettig. Sy vertel dat dit kort-kort van ‘n ander adres af bedryf is om te keer dat die owerhede hulle opspoor. Dit is ook waar sy haar eerste kennismaking met kokaïen gehad het.

‘n Dwelmhandelaar het op ‘n kroegtoonbank ‘n ellelange lyn gemaak en almal wat belang stel uitgenooi om te snuif.

“Toe ek daar klaar was, was ek goed in my herrie in. Dit was goeie cocaine gewees.”

Vir lank het Marlise bedags by ‘n restaurant en snags by ‘n dobbelhuis gewerk. Sy het sosiaal begin om kokaïen te snuif en skouers geskuur met berugte name soos Pip James, vir wie sy gewerk het.”

“Die Kaap se restaurante was vol van drugs, onder die waiters en die bestuur.”

Op 18 het sy ma geword.

“Die pa wou niks weet nie. Toe sê ek dis fine, ek sal hom self groot maak. My kind is in my pa se huis in die Kaap gebore.”

Haar liefde vir dwelms en partytjie het al hoe groter geword. Van kokaïen het sy aanbeweeg ecstasy toe.

“Toe was dit full-on party vir my. Pille was my ding gewees. Dit was toe die groot raves net hier begin het. Ek was na al die groot parties toe. Camel Experience, you name it, ek was daar.”

Haar kind was bedags by ‘n kleuterskool.

“Ek het hom een dag daar vergeet. Nou moet jy dink: hier is hierdie driejarige kind wat in die donker voor die kleuterskool op die sypaadjie sit en wag, en sy ma is hoog op dwelms.”

Op vier is haar kind weggeneem.

Sy het deur vriende met ‘n Morrokaanse bende deurmekaar geraak. Hulle het haar gebruik om dwelms inwendig by partytjies in te smokkel.

“Ek het altyd ‘n pleister op my arm geplak. Jy kon maar weet, as jy hom oplig gaan jy acid daar onder kry. Hulle het my ondersoek by die hekke. Maar daar is plekke waar mens nie kan soek nie. Ek het die pille in ‘n banksakkie toegedraai en binne in my weggesteek.”

Dit was tydens haar tyd saam met die bende wat sy die hel in die oë gestaar het. Sy kyk vir die eerste keer weg terwyl sy vertel hoe sy haarself vir dwelms verkoop het. Partytjie dwelms het plek gemaak vir harder middels soos crack-kokaïen (‘n harde kristal wat jy rook) en Mandrax (‘n pil wat jy saam met dagga of tabak rook).

“Jy moes aantrek soos wat hulle vir jou sê. Partykeer het hulle jou gebruik om van hul vyande te lok tot by plekke waar hulle gewag het. Dit was die Moroccans teen die Nigerians en ek was by die Moroccans. Ek het nooit met geld betaal vir dwelms nie, ek het met iets anders betaal.”

Marlise moes, toe ‘n Nigeriese dwelmhandelaar nie wou sê waar hy sy dwelmvoorraad wegsteek nie, ‘n geweer op hom rig en hom doodskiet.

“Jy is so hoog en deurmekaar, jy gee nie om nie. Jy weet nie eers lekker wat jy doen nie. Hulle het die geweer in my hand gedruk en gesê skiet. Toe skiet ek.”

Sy het saam met twee ander meisies in ‘n verlate ontkleeklub ingetrek.

“Ons het net die slot aan die ketting by die deur afgebreek en ons eie slot opgesit. Daar was hierdie klein kamertjies met vuil matrasse. Dit was ons huis.

“Toe ek die eerste keer die fliek Taken kyk, het dit my baie geskok. Dit is presies hoe dit in die regte lewe was.”

Sy vertel van huise waar bendelede meisies aangehou het. Hulle het slap en bedwelmd oor beddens gehang, skaars bewus van wat om hulle aangaan. Soms is hulle aan ander bendelede verkoop. Soms het hulle oornag verdwyn…

Een van die meisies wat saam met haar in die ontkleeklub gebly het, het voor haar ‘n miskraam gehad.

“Sy het nie geweet sy is swanger nie. Ons het crack gerook. Toe begin sy te bloei. En toe val daar iets bloederigs op die grond.”

Marlise en haar vriendinne het by ‘n bordeel genaamd Cupido’s gewerk. Op ‘n dag het ‘n polisieman haar op straat herken, haar opgelaai en by haar sussie en haar swaer in Brackenfell gaan aflaai.

“Hy het geweet wie ek is want my swaer was ‘n oud-polisieman.”

Dit was die begin van die einde. Nadat sy in die huis gevang is met dwelms het haar swaer haar weggejaag. Daarna het sy in haar pa se kar voor haar sussie se huis gebly.

“As hy werk toe is het sy my in die huis toegelaat sodat ek kan bad.”

Sy is Londen toe waar sy dit reggekry het om vir ‘n jaar skoon te bly voordat sy weer geswig het.

“Daar was baie dae wat ek sad was, wat ek by my ouers gehuil en gesmeek het ‘Help my!’ Maar hulle het nie geweet hoe nie, want hulle ken dit nie. Dit was my sussie wat uiteindelik my lewe gered het.”

In 2001 het haar suster haar aangespreek oor haar dwelmprobleem. Sy het deur middel van die kerk ‘n ingryping gereël en Marlise met ‘n hofbevel na ‘n rehabilitasiesentrum gestuur.

“Ek wou nie gaan nie. Maar as ek wegloop sou hulle my Pollsmoor tronk toe stuur. En soontoe wou ek nie gaan nie.”

‘n Heroïenverslaafde met ‘n dagoue baba was haar redding. Die vrou kon nie na haar eie kind kyk nie en Malise het vir drie maande na die kind omgesien.

Charlise Welsh, ‘n vrou wat die sentrum gereeld besoek het, is tot vandag toe haar mentor.

“Sy het op Dinsdae vir ons sigarette en koek gebring. As ek nou nog oor iets wonder, dan vra ek haar. Ek hoop ek kan haar eendag terugbetaal vir dit wat sy vir my gedoen het.”

Op 15 Desember 2007 is Marlise huistoe.

“Vir elf jaar kon ek my kind net op Kersdag sien. Vir die laaste sewe jaar het my seun my leer ken, en ek vir hom. My ma het my leer ken.

“Ek geniet myself nou. Ek is steeds alleen, ek is skrikkerig vir mans, ek is sieklik van al die dwelms. Maar ek het baie vriende. Ek gaan een maal per week Oorwinnaars toe. En my sussie is my hero.”

• Die Oorwinnaars is ‘n dwelmondersteuningsgroep wat verslaafdes en hul families bystaan.

* Marlise is ‘n skuilnaam weens die sensitiwiteit van die inhoud van haar storie.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button