Video: Prostitute word net meer – Inwoners magteloos

Die prostitute in die middedorp het inwoners raadop. Ten spyte van die Middelburg polisie se bevestiging dat prostitusie steeds as misdaad beskou word en dat hulle alle misdaad met ywer sal beveg, word daar weinig aan die prostitute gedoen.

Die Middelburg Observer het na talle klagtes, twee maal hierdie week gaan ondersoek instel.

‘n Man het gedreig dat hy ‘n span met verfbalgewere bymekaar gaan maak, om die sekswerkers uit die middedorp te dryf.

Buiten vir die geraas kla inwoners dat hulle blootgestel word aan openbare onsedelikheid, intimidasie en teistering.

‘n Ma het by die polisie gaan aanklop om hulp, nadat haar kar deur prostitute voorgekeer is en haar seun moes toekyk terwyl hulle hul geslagsdele ontbloot.

Susan Viljoen sê dat die polisiemanne aan diens geweier het om haar te help en gesê het dat dit nie help dat hulle die vrouens arresteer nie, omdat hulle die volgende dag net weer daar sal wees.

Elena Pienaar het Woensdagaand op die Middelburg Observer Facebookgroep gekla dat daar 15 vrouens op die hoek staan.

Sy het gehoor hoe hulle aan ‘n verbyganger skree dat hulle sy huis gaan afbrand.

“Die gemors het die hef in die hand. Kan mens nie die burgemeester gaan sien nie? Is prostitusie wettig?”

Daleen Naude is tydens haar besoek aan die middedorp Maandagaand 27 Oktober, vriendelik nader genooi met die woorde “Yeah baby! Yeah baby!” Toe die vrou haar kamera sien het sy van deuntjie verander en haar gevloek.

Dinsdagaand  28 Oktober is Zsaraeva Nel die strate in met ‘n videokamera.

Toe sy die eerste keer in die straat afry het ‘n prostituut wat in ‘n japon rondgeloop het haar geslagsdele aan haar ontbloot.

Hulle het egter vinnig agtergekom toe die kamera aangeskakel word.

Twee mans, een met ‘n wit hemp en wit plastieksak in sy hande en die ander met ‘n geel hemp en geel plastieksak, het volgens me. Nel die vrouens in die straat gewaarsku, waarna hulle nader kom.

Nel en haar vriende is ook vir ‘n ruk deur ‘n silwer BMW agtervolg.

 

Back to top button