Crime

Mduduzi steeds op vrye voet

Drie van die vier polisiemanne wat geskors is nadat Mduduzi Nkosi verlede jaar ontsnap het, is terug by die werk.

Die vier polisiemanne, die skofbevelvoerder en drie van die lede op skof, is geskors kort na die gevaarlike misdadiger, Nkosi, in November 2013 ontsnap het.

Nkosi staan tereg op ‘n vlaag misdade, waaronder moord, verskeie roofklagtes en verkragting.

Ná sy ontsnapping word hy nou ook positief verbind met ten minste twee ander aanvalle in Middelburg, waaronder die panga- en hameraanval op ‘n egpaar by die Pienaardam boshut.

Brig. Selby Mohlala (provinsiale woordvoerder) het ‘n paar maande gelede gesê dat vier polisiemanne geskors is hangende die uitslag van die interne ondersoek.

Brig. Mohlala het onder andere gesê dat daar antwoorde gesoek gaan word oor hoe Nkosi in die besit gekom het van ‘n saag. “Geen besoekers, buiten polisielede, word by die selle toegelaat nie.” Hy kon nie hul name bekend maak nie, omdat dit ‘n interne ondersoek is.

Nkosi, en nog twee verhoorafwagtendes, Lucky Thabang Mnisi en Simphiwe Ngobeni, het in die vroeë oggendure op 27 November 2013 uit die polisieselle op Middelburg ontsnap. Al wat die polisie ná die ontsnapping gesê het, is dat “die drie beskuldigdes die wagkamer oopgebreek, die diefwering afgesaag en daarna gevlug het.”

Mnisi en Ngobeni is ‘n dag later in die omgewing vasgetrek, maar Nkosi is sedertdien op vrye voet.

Die Observer het betroubaar verneem dat die drie skoflede intussen terug is by die werk en dat die klagtes teen hulle teruggetrek is. Slegs die skofbevelvoerder is tans nog geskors, hangende die uitslag van die interne verhoor.

 
Back to top button