News

Dogter én kleinseun veg teen kanker

Terwyl sy tee aandra met haar jongste kleinseun op die heup en vertel dat haar dogter op 14 nou 'n kêrel het, sien 'n mens die moeë lyne wat pyn op haar gesig geteken het.

“Carla mag nie siek word nie. As die wind net waai, laat ek haar inkom. Mense veroordeel my, omdat ons haar nie meer vir chemo stuur nie, maar daar is niks meer wat hulle vir haar kan doen nie.

En Kenzo is ook nou weer in die hospitaal. Dit is hoekom ek nou na Xandre kyk sodat hul ma by Kenzo kan wees,” sê me. Elmarie Venter.

Hierdie gesin het het die afgelope drie jaar deur die meul van die lewe gegaan.

Me. Venter se dogter, Carla Jordaan, is drie jaar gelede met Akute Limfoblastiese Leukemie (ALL) gediagnoseer. Die pad in ‘n ambulans na die Steve Biko Hospitaal het Carla al toe-oë geken.

Elke moontlike behandeling is toegepas, maar op 30 Maart 2014 het die dokters die verdoemende nuus gegee: daar is niks meer wat hulle vir Carla kan doen nie. “So vinnig as wat haar beenmurg bloedselle maak, net so vinnig vervaardig haar liggaam weer kankerselle.”

Vir dae kon die waarheid nie insink nie, maar nóg ‘n skok het op die familie gewag.

Net ‘n week later, op 7 April 2014, is me. Venter se kleinseun, Kenzo Smit (3), met dieselfde tipe bloedkanker gediagnoseer. Vir die soveelste keer is die mat onder hul voete uitgeruk.

“Dit is onmoontlik dat dit in dieselfde generasie kan gebeur, maar dit hét.”

Kenzo se mamma, Lida, was juis weer met haar kleuterseuntjie by die hospitaal twee maande gelede, toe sy skielik in kraam gegaan het en klein Xandre gebore is.

Vir Carla was die gebeure net so ‘n groot skok, omdat sy presies weet wat haar susterskind moet deurgaan.

Kenzo kry nou intensiewe chemoterapie om sy immuunstelsel te onderdruk. Die kanker moet heeltemal in remissie wees voordat hy ‘n beenmurgoorplanting kan kry.

Sy kyk hartseer vir Carla agterna as sy spelend met haar kat in die kamer in verdwyn.

“Ek moet positief probeer bly vir my kinders, maar dit is nie maklik nie. Almal wil die heeltyd vir my vertel wat om te doen en sê ek ontneem haar dinge deur haar nie skooltoe te stuur nie.

Carla mag egter met géén virus in aanraking kom nie. As sy siek word, sal sy nooit weer gesond word nie. Ons geniet haar terwyl ons kan.”

Minute later kom ‘n bleek Carla uit die kamer uit en drink haar medikasie teen pyn. Sy het ‘n swart bottel water by haar wat sy net die vorige dag voor gesmeek het.

Me. Venter verduidelik dat dit ‘n nuwe tipe vitamien is wat Carla wil drink. Dit is duidelik dat dié tenger meisietjie met alles wat in haar is teen die siekte veg.

In ‘n briefie skryf Carla: “Ek bid elke dag dat Liewe Jesus my gesond sal maak. Ek sê ook dankie vir mamma, pappa en my gesin, asook ons vriende wat mamma en my so mooi help.

Ek kan enige tyd sterf, so ons probeer soveel moontlik alles wat ek nog altyd wou doen, klaar doen, voordat ek heeltyd in my bedjie gaan lê. Baie dankie vir almal wat vir my bid.”

• Die “Reik na ‘n Droom”-organisasie het verlede week ‘n rekenaar vir Carla gegee waarmee sy haar kan besig hou by die huis. Vir Kenzo het hulle ‘n battery aangedrewe Jeep geskenk. Die woelwater was baie ongelukkig omdat hy nie sy Jeep kon saamvat hospitaal toe nie.

Back to top button