News

Familie sê: ‘paartjie wat met kind bedel, is dwelmverslaafdes’

Die paartjie wat met ’n sesjarige blondekop seuntjie bedel, is dwelmverslaafdes!

Kort na die artikel op www.mobserver.co.za gepubliseer is, het familie van die paartjie (wat anoniem wil bly) die joernalis gekontak en gesê dat hulle al twee weke na hulle soek om die kind weer by hulle te vat.

“Hulle het twee weke gelede die seuntjie by sy ouma in eMalahleni kom haal en net verdwyn. Hulle fone is sedertdien af en ons is rasend van bekommernis oor hul kind!”

Die familielid sê Francois (Cois) en Cecilia is dwelmverslaafdes en dat hul seuntjie van sy geboorte af die meeste van die tyd by sy ouma in eMalalhleni gebly het.

“Hulle van is ook nie Putter nie. Dit was Cecilia se nooiensvan. Hulle van is Theunissen!”

Daar is vertel hoe Cois al vir jare dwelms gebruik en behandeling in verskeie rehabilitasiesentrums gekry het.

Die paartjie het mekaar in Boksburg ontmoet, waar hulle beide op daardie stadium reeds dwelmverslaafdes was.

Hulle het later jare na eMalahleni verhuis, waar hulle, volgens die familie, ook bekende bedelaars was.

Met die geboorte van hul seuntjie, het hulle by die kind se ouma ingetrek, sodat sy ’n ogie oor die kind kon hou.

As Cois en Cecilia strate toe is, was die seuntjie die hele tyd in die sorg van die ouma.

’n Paar maande gelede het die paartjie vir hulle gesê dat hulle werk gaan kom soek in Middelburg en het verdwyn. Hulle het hul kind by sy ouma gelos.

“Dit is in daardie tyd wat sy in Middelburg gesien is waar sy gebedel het. Cois het ook daar gebedel.”

Twee weke gelede het die twee in eMalahleni opgedaag met die Uno. Cecilia het vertel dat ’n klein gedeelte van haar derdeparty eis uitbetaal het. Cecilia is sowat drie jaar gelede deur ’n taxi raakgery terwyl sy in eMalahleni gebedel het en die familie het geweet sy wag vir die eis om uit te betaal.

Cois en Cecilia het vir hulle gesê hulle wil net die seuntjie vir die middag hê om ’n draai met hom te gaan ry. “Hulle het net nooit weer teruggekom nie!”

Wat hulle bekommer, is die feit dat hulle weet dat die ouers beide dwelmverslaafdes is.

“Die kind was altyd veilig by sy ouma! Ons kan nie glo hulle gebruik hom nou om te bedel vir geld nie.”

Lees ook: Dorp sien rooi oor ouers wat kind glo misbruik

•Talle mense het na die artikel gebel en gesê dat Cecilia en Cois bekende bedelaars op eMalahleni was. Ander het kwaad gesê dat hulle die egpaar al oral in Middelburg gesien het met die kind en dat die ouers hom gebruik om te bedel.

•Een vrou (wat ook verkies om anoniem te bly) sê sy het gereeld vir Cecilia kos gegee waar sy gestaan en bedel het in Oranjestraat. Sowat twee weke gelede het sy nie kans gehad om vir haar iets te ete te koop nie, en het haar R20 in die hand gestop.

Dieselfde aand is die vrou na die Midwater Sentrum om ’n wegneem-ete te koop by ’n restaurant.

“Ons het verby die taxistaanplek op die hoek van John Magagula- en Oranjestraat gery en dadelik vir Cecilia gesien. Sy was besig om ’n dwelmtransaksie met iemand te doen! Ek sal nooit weer vir haar geld gee nie, want dit is vir dwelms! Jy moet sien hoe staan sy partykeer en bewe!”

Die vrou was ook omgekrap toe sy hoor dat die egpaar nou hul seuntjie by hul het. “’n Mens help hulle omdat jy hulle jammer kry en dan doen hulle dit!”

•Buiten in die Midwater Sentrum, is Cois en Cecilia die afgelope twee weke ook in De Villierstraat, op die hoek van Cowen Ntuli- en Walter Sisulustraat, Lilian Ngoyistraat (Kanonkop) en hoek van John Magagula- en Wanderersstraat gesien.

Cecilia bedel en Cois sit altyd naby in die Uno met hul seuntjie by hom.

•Enige persoon wat weet waar die paartjie hul tans bevind, kan 072 248 3855 (Observer se bystand nommer) bel.

 

Back to top button