News

Familielid vrees vir Jarrid se lewe

Met sig wat uit absesse op sy bene loop, het die bekende dwelmverslaafde Jarrid ‘O Connor (32) in pyn uitgeroep dat hy na ’n rehabilitasiesentrum toe wil gaan. Woensdag is hy uit ’n hospitaal in Boksburg ontslaan en dieselfde middag was hy egter op sy pos naby die East Rand Mall (Boksburg) om vir dwelms te bedel.

“Ek weet nie of hy nog ’n kans gaan kry nie. As hy nie self die besluit neem om die dwelms te los nie, gaan dit nog sy dood veroorsaak,” het ’n familielid van O’ Connor (wat anoniem wil bly) hierdie week gesê.

Die familielid het www.mobserver.co.za gekontak en hartseer gesê dat daar niks van sy “soveelste belofte” gekom het om na ’n rehablitasiesentrum te gaan nie. “Hy is ’n kompulsiewe leuenaar.”

Hy is etlike weke gelede in ’n provinsiale hospitaal opgeneem, omdat hy weens absesse van al die jare se dwelmgebruik nie op sy bene kon staan nie.

O’Connor het die familielid gekontak en laat weet dat hy in erge pyn is.

“Hy het gesê hy wil nooit weer dwelms gebruik nie en gaan as hy ontslaan word, dadelik na die rehabilitasiesentrum toe gaan. Die Zebulun Lifestyle Development Centre was selfs bereid om hom weer te help.”

Met sy ontslag Woensdag het die familielid met hom gepraat en opgewonde gevra of daar gereël kan word dat hy na die rehabilitasiesentrum toe gaan.

“Hy het reguit gesê dat hy nie kans sien om tussen daardie vier mure te sit en dan daar uit te kom en dan weer op straat te land nie. Hy het gesê daar is vir hom geen hoop as hy daar uitkom nie. Elke keer kry hy ’n kans en elke keer mors hy dit op. Ons weet nie of hy weer so gelukkig gaan wees nie. Jarrid lyk baie sleg.”

•O’Connor was ’n welbekende heroïenverslaafde in Middelburg en het barmhartige samaritane verlede jaar gehelp dat hy na die Zebulun Lifestyle Development Centre kan gaan. Dié sentrum het vir hom gratis behandeling vir ’n jaar, ter waarde van R100 000, aangebied.

Die Middelburgers het vir hom klere en kontant geskenk vir sy verblyf en daar is selfs ’n geleentheid vir hom gereël na die sentrum toe. Na net twee weke het hy weggeloop en is sedertdien al verskeie kere gesien waar hy vir dwelms bedel naby die East Rand Mall.

•Vroeër vanjaar is hy vir diefstal gearresteer en is in Augustus met ’n opgeskorte vonnis uitgelaat. Hy het hart en mond belowe dat hy na die sentrum toe sal gaan nadat hy uit die tronk uit kom.

’n Familielid het hom opgelaai om na die sentrum toe te neem, maar hy het gevra dat hulle hom moet aflaai, en is hy dadelik terug strate toe.

•O’Connor is al gehelp by die Oorwinnaars Halfweghuis en Hope Corner, maar het ook daarvandaan weggeloop.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button