News

Dorp sien rooi oor egpaar wat kind glo misbruik

’n Blonde sesjarige seuntjie moet bedags glo in bloedige hitte in ’n kar sit of by sy ma staan as sy op straathoeke bedel.

Talle Middelburgers het die afgelope twee weke gekla oor die man en vrou, wat, volgens hulle, bedags bedel met hul sesjarige seuntjie by hulle.

“Die ma staan gewoonlik in Oranjestraat, naby die ingang na die Midwater Sentrum, met die man daar naby in die Uno karretjie. Hy maak altyd of daar fout is met die kar, met die enjinkap oop. Die kind is die meeste van die tyd by hom. As sy nie genoeg geld maak nie, dan vat sy die kind saam met haar en staan met hom voor haar of met hom op die heup en bedel!”

Verskeie stories het daarna gevolg.

“As ’n mens hulle konfronteer, dan verdwyn hulle net na ’n ander deel van die dorp toe!”

Rdl. Anphia Grobler het ook verlede week gekla oor die man en vrou wat sy by twee geleenthede in De Villierstraat gesien het. Die vrou het een aand by haar kom bedel.

Daarna het sy hulle weer gesien en opgemerk dat die seuntjie uit die kar uit klim en onder die koeltebome gaan sit. “Ek is net bekommerd oor die welstand van die kind. Hy word nou in ’n voertuig op straathoeke groot!” het rdl. Grobler gesê.

By navraag aan me. Sandra Rodrigues (sentrumbestuurder, Midwater Sentrum) het sy bevestig dat hulle die man en vrou die afgelope tyd ’n paar keer moes verwilder vanaf die Midwater Sentrum perseel.

Sy het hulle agter al voorheen sien bedel in die omgewing van Oranjestraat.

“Hulle het egter toe nie ’n voertuig gehad nie en daar was ook nie ’n kind by hulle nie. As hulle bedags genoeg geld gemaak het, het die man in die rigting van die veld in John Magagulastraat in verdwyn.”

Die man stop gereeld met sy Uno in die omgewing waar die vrou staan en bedel. ’n Sesjarige blondekop seuntjie is die meeste van die tyd by hom, maar daar word gesê dat die vrou soms die kind by haar laat staan as sy bedel.

Twee weke gelede het sy dadelik begin rondbel vir hulp toe sy sien dat die vrou wat staan en bedel skielik ’n kind by haar het. Die man het daar naby gestop in ’n Uno.

“Hulle was by die ingang van die sentrum en ek het haar verjaag, want ek het vir haar gesê hulle mag nie ’n kind misbruik om te bedel nie. Ek het ook vir haar gesê dat ek die welsyn op hulle gaan sit, want dit is onaanvaarbaar.”

Me. Rodrigues sê die vrou het haar gevloek, in die pad in gespring en gesê sy sal staan waar sy wil, “waarop sy vir my geskree het: ‘Die pad behoort nie aan jou nie!”

Me. Rodrigues het ook gevra dat noodgroepe, die munisipale polisie en selfs die CMR moet help dat die mense nie verder die kind misbruik nie.

•Die paartjie was vir ’n paar maande ook bekende gesigte in Kanonkop, maar het toe ook nie ’n voertuig of die kind by hulle gehad nie.

•Die CMR kantoor het wel klagtes ontvang, maar kon tot op hede nie die man en vrou opspoor om hulle uit te vra oor die gebedel met die kind by hulle nie.

Www.mobserver.co.za het vir twee weke rondgejaag agter inligting aan, maar elke keer as ons daar gekom het, het die paartjie in hul Uno gespring en weg gejaag.

•Vanoggend is die vrou weer by die ingang van die Midwater Sentrum in Oranjestraat gesien. Haar man was by ’n nabygeleë besigheid met die kind by hom in die kar. Mense het gekla dat hy met die kind op sy skoot uit die kar uit bedel vir geld.

Die joernalis het die vrou gevind waar sy staan en bedel. Sy het haarself voorgestel as Cecila Putter en gesê dat sy haar tannie, wat oorlede is, se Uno geërf het.

Volgens haar is sy en haar man Francois beide 38 jaar oud, kom eintlik van Boksburg af en “soek eintlik net los werkies.”

Cecilia sê dit is wel hul seuntjie, dat hy ses jaar oud is “en dit nie verpligtend is vir hom in graad R te wees nie! Ons sal hom volgende jaar skooltoe vat.” Sy het erken dat hy bedags “soms” saam met hulle rondry, maar die meeste van die tyd by haar skoonma in eMalahleni bly.

Op die vraag of sy die kind by haar laat staan as sy bedel, het sy dit hewig ontken.

“Hy kom sit soms ’n rukkie by my op die sypaadjie as hy uit die kar uit klim, maar ek laat hom nie by my staan as ek bedel nie!” Sy het ook ontken dat haar man bedel met hul seuntjie by hom.

Cecilia het erken dat dit warm is vir ’n kind in die Uno en selfs as hy uitklim. “Ons het koeldrank vir hom en smeer sonskerm aan hom.”

Sy is gevra wat hulle met die kind gaan doen as hulle “los werkies” vir mense doen.

“Hy help as ons werk. Dit is hoe hy leer om te werk. Andersins speel hy in die sandjies terwyl ons werk.” •Kort na die onderhoud het Cecilia afgehol in Oranjestraat waar die Uno haar opgepik het.

Back to top button