News

Jakkals wat geskiet moes word toe ’n yslike luiperd

Die eienaar van uBhetyan en ’n veearts moes deur ’n onherbergsame gebied tussen bosse en slote deur beur, om ’n luiperdmannetjie te dra, nadat hulle hom uit ’n strik gered het.

Mnr. Deon Cornelius (uBhetyan) sê hy is gister (Maandag) deur dr. Nolan Landman (veearts van eMalahleni) gekontak om te help, nadat ’n luiperdmannetjie in ’n strik gevang is. Mnr. Cornelius sê hy help gereeld vir dr. Landman, omdat hy toegeruste kratte het om wilde diere in te vervoer.

Met hul aankoms op die plaas, net buite Balmoral, het hulle besef dat hulle glad nie naby die area kan kom, waar die dier in die strik verstrengel is nie en is te voet die bosse in.

“Dit was uiters gevaarlik en ons moes vinnig werk. Die strik was verstrengel aan sy agterlyf, maar nog net aan ’n tak vas.”

Mnr. Cornelius sê hulle moes die dier twee keer verdoof, omdat hy erg gestres was en weens die adrenalien nie aan die slaap wou raak nie.

Nadat hulle uiteindelik die luiperd aan die slaap gekry het, “moes ek en dr. Landman om die beurt die luiperd dra, want hy was verskriklik swaar, 50kg om presies te wees! Dit was omtrent 400m deur bosse en slote wat ons hom moes dra tot by die bakkie.”

Die luiperdmannetjie voordat hulle hom in die krat gelaai het. Hy weeg 50kg en is sowat ses jaar oud.

Die luiperd is na dr. Landman se dierekliniek in eMalahleni geneem, waar hulle hom dadelik op aarvoeding gesit het.

“Die luiperd het begin dehidreer, omdat hy moontlik langer as ’n dag in die strik was,” het mnr. Cornelius gesê.

Hy sê die luiperd sal ’n paar dae in die kliniek bly, om seker te maak daar is nie weefselskade waar die strik om sy agterlyf was nie.

Volgens mnr. Cornelius is die plan om later ’n opsporingsband, wat hy (mnr. Cornelius) en mnr. Nicky van Dyk besig is om te ontwerp, om die luiperd se nek te sit, om sy bewegings dop te hou.

Hy sê dat die luiperd moontlik later losgelaat sal word op die Talpirion reservaat, wat naby die area is waar die luiperd in die strik gevang is.

•Mense wat op die plaas net buite Balmoral bly, het die eienaar van die plaas gekontak en gesê hulle het ’n jakkals in ’n strik gevang wat nog leef en dat hy hom moet kom skiet. Met sy aankoms daar, het hy die luiperd gevind en hulp ontbied.

Die pragtige luiperdmannetjie van nader gesien.
Die luiperd se groot slagtande.

 

Back to top button