News

Gawe oom lekker skelm

'n "Gawe Afrikaanssprekende man", wat homself voorstel as Koos Bergman, het derduisende rand se goedere by besighede in Middelburg gesteel.

Die slagoffers het almal versoek om anoniem te bly.

By die eerste besigheid het Bergman homself telefonies voorgestel as die eienaar van Bergman Transport, wat in Bronkhorstspruit gebasseer is.

Hy het gasbottels bestel en toe sommer aangebied om die bottels by die verskaffer in Pretoria te gaan oplaai, omdat dit nader aan hom was.

Nadat die bewys van betaling deurgestuur is, het die besigheid sy verskaffer die groen lig gegee en Bergman het die bottels met ‘n rooi Volkswagen Fox gaan oplaai.

Dit was die laaste sien van blikkantien.

Toe die besigheid agterkom dat die betalingstrokie vervals is, was dit te laat. Bergman het nog eenmaal sy foon geantwoord en daarna nooit weer nie.

Tydens die tweede voorval het Bergman hom as ‘n “oupa van Belfast” voorgestel. Hy wou sy twee kleinkinders verras met fietse.

Nadat die bewys van betaling deurgestuur is, het Bergman versoek dat die fietse sommer langs die hoofweg afgelaai word, sodat sy kleinkinders dit nie sien as dit op die plaas afgelewer word nie.

Een van sy “werknemers” het die fietse kom haal.

Daarna is die elektroniese betaling blitsvinnig teruggetrek en “Koos van Belfast” het weereens verdwyn.

Die eienaar van ‘n slaghuis het glad nie onraad vermoed toe ‘n “gawe hip omie” bel en uitvra oor hul maandpakke nie. Koos Bergman van Bronkhorstspruit het onlangs by hulle ‘n maandpak gekoop en wou nou 12 sulke pakke hê om aan ‘n ouetehuis te skenk. Daarmee saam het hy sommer ook twee lammers bestel.

Die vrou het ‘n kwotasie deurgestuur, die pakke gepak en selfs vir Koos se werknemer verduidelik hoe om by die slaghuis uit te kom.

Die man wat die pakke kom oplaai het was “vreeslik vriendelik” en het beloof om later terug te kom vir twee lammers.

Die bewys van betaling was teen daardie tyd reeds deurgestuur en gedruk.

Toe die slaghuiseienaar ‘n week later nie vir Koos in die hande kry nie, is sy bank toe.

Daar het die bank haar vrese bevestig. Die transaksienommer op die betaalstaat was vervals en daar is nooit ‘n betaling gedoen nie.

“Ek kon nie glo dat die vriendelike omie so skelm kon wees nie.

Om ‘n slaghuis te hê is harde werk. Mens werk fisies hard.

En dan kom iemand soos hy en vat net jou geld? Dis nie reg nie.”

Die totale skade wat deur die slagoffers gely is beloop om en by R60 000.

In al die voorvalle het “Koos” uitgevra oor watter bank die besigheid gebruik en dan aangevoer dat hy by ‘n ander bank is.

Dit sus besighede vir ‘n rukkie omdat die geld tydens tussen-bank-oorbetalings nie dadelik wys nie.

• Kaptein Khanyisile Zwane het bevestig dat die polisie ‘n saak van diefstal en bedrog ondersoek.

Sy het besighede gewaarsku om seker te maak dat hulle eers die betaling ontvang het voordat hulle van hul goedere afstand doen.

Lees opvolg berig:

Bergman-sindikaat slaan weer toe

Back to top button