News

Slaggat kos inwoners duisende

'n Slaggat in Keiskammastraat het derduisende rande se skade aan inwoners se voertuie aangerig. Die goeie nuus is dat die skade van die munisipaliteit geëis kan word.

Die Middelburg Observer is bewus van minstens tien motoriste wat moes opdok vir nuwe bande nadat hulle deur die slaggat gery het. Dit is regoor ‘n ingang wat deur vragmotors vir mynbedrywighede gebruik word, naby aan die Uitkyk plakkerskamp.

•Andries du Bruyn sê dat hy Sondagoggend, nadat sy band beskadig is, geen besigheid kon oopkry om dit te herstel nie.

Hy moes R3 500 betaal toe sy band Maandag reggemaak is.

•Dr. Neil Fourie se voertuig het ook deurgeloop. Sy beraamde skade is bykans R5 000.

Almal het vertel dat daar reeds twee, of drie, voertuie langs die pad gestaan het met pap bande, toe hulle daar deur is.

•Tony Peyper sê dat hy Saterdag, terwyl hy langs die pad gestaan het, die verkeersdepartement gebel het om hulle van die gat te vertel. Niemand het opgedaag nie.

•Die gat is Maandagoggend reggemaak, maar nie voordat mnr. Willie Dawson daar deurgery het nie. Hy het twee bande verloor en moes R3 400 betaal om dit te vervang.

“Hulle het die gat kom regmaak terwyl ek daar gestaan het.”

Net die mense wat met die Middelburg Observer kontak gemaak het se beraamde skade is meer as R12 000. Goeie nuus is dat die skade van die munisipaliteit geëis kan word.

Munisipale bestuurder, mnr. Willie Fouché, sê dat mense wat die skade van die munisipaliteit wil eis die volgende stappe moet volg:

• Kry ‘n kwotasie vir die skade.

• Rig ‘n skrywe aan die munisipale bestuurder waarin jy vertel waar en wanneer jy die skade opgedoen het.

• Dien die eis by die munisipale bestuurder se kantoor in.

Mnr. Fouché sê dat die eise van daar af deur die regte kanale hanteer sal word.

“As dit langer as 36 uur gevat het om by die probleem uit te kom nadat die slaggat gerapporteer is, maak ek verskoning daarvoor.”

Mnr. Fouché sê dat die munisipaliteit effe agter geraak het met die regmaak van slaggate tydens die reënseisoen. Die agterstand is intussen ingehaal. Die munisipaliteit het ‘n beleid waarin hulle onderneem om slaggate, binne 36 uur nadat dit gerapporteer is, te herstel.

Hy nooi mense uit om slaggate te rapporteer by sy kantoor 013 249 7263 en die beleid te toets.

Back to top button