News

Opvolg: Hy wou werk – Hulle wou staak

Aaron Mavimbela is tot 20 jaar tronkstraf vir die moord van Jacques Naude in die rondgaande hooggeregshof deur regter Bill Prinsloo gevonnis na 'n uitgerekte verhoor.

Die vonnis is egter nie deur Jacques se broer, Markus, en suster, Estelle, verwelkom nie.

“Jacques was ‘n goeie ou,” het ‘n hartseer Markus Woensdag tydens uitspraak in die hooggeregshof gesê en bygelas dat hy “net ‘n uur alleen in ‘n kamer met die moordenaars soek”.

Vier mans is aanvanklik aangekla van Jacques se moord, maar net twee, Aaron Mavimbela en Aaron Mkhize, is verhoor.

Mkhize is vrygespreek en regter Prinsloo het geen doekies omgedraai oor die swak polisie-ondersoek teen hom, wat eindelik tot sy vryspraak gelei het nie.

Markus, wat spesiaal van Bronkhorstspruit af gereis het vir die uitspraak verlede week, se herinneringe aan sy outboet ruk die hart – “Jacques was ‘n voorbeeld vir baie ander mans. Hy het by Woestalleen begin werk nadat hy twee weke lank elke dag daar opgedaag het, maar daar vir hom geen pos was nie. Hy het eenvoudig nie aanvaar dat daar nie vir hom werk was nie, en hy het verniet gaan werk tot die base eenvoudig besef het hy is goud werd en hom aangestel as skaalklerk. Vandaar het hy hom met bloedsweet opgewerk tot voorman in die wasaanleg waarheen hy gelok is deur sy moordenaars wat gestaak het. Dit is die verskil tussen Jacques en hulle, hy wou werk, selfs verniet, terwyl hulle aan die staak was, gierig vir meer geld”.

Jacques is koelbloedig, vir geen rede, een maal in die kop geskiet nadat sy moordenaars ‘n vervoerband by die wasaanleg afgeskakel het, om hom daarheen te lok.

Mavimbela, Mkhize en Mneleni Zulu is deur Patrick Kodisank na die myn vervoer waar Jacques ingewag is.

Zulu is in aanhouding dood en klagtes is teen Kodisank laat vaar as staatgetuie.

Mavimbela, Mkhize en Zulu was almal AMCU lede en besig met ‘n onwettige staking wat maar twee dae aan die gang was, ten tye van die moord.

AMCU aartsvyand, die opposisie unie NUM, het by monde van sy sekretaris, mnr. Frans Baleni, ook sy spyt uitgespreek dat Mavimbela nie lewenslange tronkstraf vir die moord opgelê is nie.

Markus sê niks minder as lewenslange tronkstraf sou vir hom aanvaarbaar wees nie, inteendeel, hy wens dat die doodstraf teruggebring word.

Hy sal nooit oor dit kom dat Mkhize vrygespreek is nie “want ons almal weet hy was daar”.

Hy was vol lof vir die forensiese ondersoeker, mnr. Danie Harmse, wat ‘n paralelle ondersoek op aanstellings van die myn geloods het, en die polisie baie behulpsaam was om die saak op te los.

Harmse was deurgaans in die hof tydens die verhoor, en het in noue kontak met Jacques se familie gebly, insluitende Jacques se vrou, Elsa, wat weer geluk gevind het na die moord en ‘n baba verwag.

Die gesoute privaat speurder het ook ter verswaring vonnis getuig en skokstatistieke opgehaal oor geweld by myne tydens stakings, wat die regter genoop het om ‘n voorbeeld van Mavimbela te maak.

Elsa het Woensdag gesê dat sy ook ‘n lewenslange vonnis sou wou hê.

“Die Here sal niks ongestraf laat nie,” het sy gesê oor Mkhize wat ‘n vry man uit die hof gestap het.

Jacques se dogtertjie, Xanthe, nou vier, was maar tien maande oud toe haar pa vermoor is.

Die kleuter was Sondag weer by haar pa se graf saam haar boetie, Rupert (12), wat intensiewe berading na sy pa se moord moes ontvang.

“Hy’s ‘n sterk seun nes sy pa,” sê Elsa, “party dae is hy meer my rots as wat ek vir hom een is.”

Elsa sê dat sy ‘n goeie man ontmoet het wat Jacques se skoene vol staan en dat hy ‘n goeie pa vir haar kinders is in sy afwesigheid.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button