Sport

Dinge raak nou ernstig

Die belangrike gedeelte van die seisoen skop Saterdag 28 Junie 2014 vir Middelburg Rugbyklub af, wanneer hulle Sasol in ’n wegwedstryd pak.

Die klub speel nou vir rangorde in die Hoëveldstreek om uiteindelik teen die Laeveld se top spanne kragte te meet.

En soos gewoonlik is ’n plek in aanstaande jaar se Gemeenskapsbeker op die spel.

Middelburg het egter lekker momentum aan hul kant.

Hulle het vir Ferro’s 31-19 geklop en verlede week meer as 50 punte teen die Pumas se plattelandspan in ’n oefenwedstryd opgestapel.

Een van die redes vir die span se sukses is dat afrigter Apie Human omtrents weekliks dieselfde spelers kan kies.

Die voor- en agterspelers begin mekaar se rolle verstaan en hulle het die geleentheid om vir die afgelope paar wedstryde as span saam te speel.

Spelbrekers soos Gerhard Munro, Neil Janse van Rensburg en Johan van der Walt, maak ’n definitiewe verskil sedert hul terugkeer, maar dit is nie as individue waar Middelburg uitblink nie, eerder hoe hulle as ’n eenheid saamspeel – ’n eenheid wat onder Stoof van Dyk se leierskap verder versterk word.

Sasol sal egter nie ’n maklike taak op hul tuisveld wees nie – Middelburg het immers reeds ’n stel teen hulle afgetrap.

Swartes (moontlik): Gerhard Munro, Anele Blaauw, Devan Kruger/Thabang Nkosi, Louis Roos, Abednego Mamushi, Neil Janse van Rensburg, Johan van der Walt, Phillip Range/Ruben Odendaal, Joe Herrmann, Stoof van Dyk (kaptein), Willie van der Westhuizen, Ruan Brand/Sandile Ngwenya, Braam van der Merwe, Paul Hoffman/Hendrik du Toit, Jandré Willer.

Back to top button