News

Vyf honde laasnag vergiftig!

Vyf honde is laasnag in Aerorand vergiftig. Drie honde in Lebombostraat en twee in Umfolozistraat.

“Ek is gatvol!” het mnr. Jonathan Horsford vanoggend uitgeroep. Twee van sy honde en een van sy pa, Kevin, se honde is in Lebombostraat vergiftig.

Sy pa, wat agter in hul woonstel bly, is laasnag kort voor 01:45 gewek deur die honde se geblaf. Hy is na buite, maar kon niks sien nie. Kort daarna het die honde weer geblaf en is hy weer uit. Dié keer het hy gesien dat daar fout is met die honde en het sy seun probeer bel. Mnr. Horsford se foon se klank was egter afgestel en het die oproep gemis.

Lees ook: Honde vergiftig vir motorfiets

’n Ruk later het mnr. Horsford wakker geword en sy pa buite gevind. Sy pa se hond, asook een van sy pitbull honde het reeds gevrek. Kort daarna het die ander een ook gevrek.

“’n Mens is nêrens meer veilig nie! Dit help nie eers jy trek nie. Hierdie mense kom en steel ’n mens se veilige lewe!” het mnr. Horsford kwaad gesê.

Bella, die pitbullteef van mnr. Jonathan Horsford, wat ook gisteraand saam met haar maatjie, Buller, vergiftig is.

Op 31 Julie vanjaar is sy motorfiets gesteel en is later dieselfde dag in ’n bos weer teruggevind. Hy hou sedertdien hul motorfietse op ’n ander perseel. Hy het egter ’n kwad, waaraan hy gewerk het, in die motorhuis gehad en wonder of die booswigte nie agter dit aan was nie. Hy gaan dit vandag weer na ’n ander perseel skuif.

Lees ook: Honde vergiftig: ‘Boewe wil hulle uit die pad kry vir inbrake’ waarsku GPF

•Me. Petro Venter sê hul worshond kruising en Jack Russell is ook gisteraand vergiftig. Hulle moes tussen 02:00-03:00 die honde stilmaak toe hulle geweldig geblaf het. Albei hondjies is vanoggend dood in die erf gekry. Sy het van die gif in die erf gekry en was tydens die onderhoud op pad veearts toe om die gif te identifiseer.

•In die meeste plaaslike hondevergiftigings is Temik (ook Two-Stepgif genoem weens die vinnige werking daarvan) gebruik om die honde te vergiftig.

•Hondevergiftigings het ’n nasionale probleem geword en dit het só erg geword dat daar onlangs selfs op Carte Blanche en in nasionale dagblaaie daarvan melding gemaak is. Tydens die Carte Blanche uitsending is gesê dat daar tot ’n 1 000 honde per week in Suid-Afrika vergiftig word en dat die getalle groei.

•In die eerste week van Augustus is 40 honde in een nag in Florida vergiftig.

Back to top button