Laeveld skud vere reg met fees uit die boonste rakke

“Afrikaans is veerkragtig en bring mense bymekaar.” Dit is die mening van die voorsitter van die direksie van die Innibos – Laeveld Nasionale Kunstefees, dr. Mathews Phosa. Phosa het by die mediabekendstelling van die kunstefees op 4 April in Midrand gepraat.

“Afrikaans is veerkragtig en bring mense bymekaar.”

Dit is die mening van die voorsitter van die direksie van die Innibos – Laeveld Nasionale Kunstefees, dr. Mathews Phosa.

Phosa het by die mediabekendstelling van die kunstefees op 4 April in Midrand gepraat.

Die kunstefees word vanjaar vanaf 27 tot 30 Junie in Mbombela en in die Mpumalanga-omgewing aangebied.

Vir Phosa is dit ’n riem onder die hart om te sien dat na 20 jaar bied die kunstefees steeds ’n geleentheid vir mense om versoen te word.

”Innibos bring elke jaar groter diversiteit na die kunste toe. Dit bly ’n unieke fees en ’n platform vir die kunste, kunstenaars en ook vir die Laeveld as toeristebestemming,” sê Phosa.

Hy het daarop gewys dat die fees oor die jare al meer as ’n miljard rand se ekonomiese inspuiting vir Mbombela en die omgewing gebring het en meer as 20 000 informele werksgeleenthede geskep het.

Phosa sal ook vanjaar self by die fees op 29 Junie in gesprek wees met Annemarie van der Walt oor sy liefde vir Afrikaans en die skryf van sy derde Afrikaanse digbundel.

Sandra Jacobs, Innibos se bemarkings- en mediabestuurder, het die bekendsteling afgeskop met die lees van ’n gedig, Feesmaal deur vanjaar se feesdigter, Johan Myburg.

Sy het klem daarop gelê dat vanjaar se 20ste Innibos Kunstefees se program iets te kies en te keur vir elke kultuursmaak het.

Van leefstylaanbiedinge tot vertonings deur klassieke kunstenaars in die Sudwala-grotte, is daar bepaald ’n feesitem vir ieder en elk.

Verskeie kunstenaars soos Ruan Josh, Willem Botha en Leon Gropp, wat gaan optree, het die bekendstelling bygewoon.

Daar was ook diegene wat vertonings aanbied by die fees soos TV-sjef van Pretoria, Corli Prinsloo en Pretoria-skrywer Riaan Grobler.

Die Pretoria radiostasie Groot FM, wat die Wingerd- kuiertuin program behartig, se personeel het ’n draai gemaak sowel as gesprekvoerder Francois Jacobs, wat met bekendes soos Brendan Peyper in die Laevelder Boma-kuierteater sal gesels.

Die bekende en gewilde sanger van George, Elvis Blue, se projek Elvis ry vir skoolgeld is tydens die bekendstelling geloods.

Die sanger het met sy uitnodiging na die kunstefees besluit hy wil die 1 500km vanaf George in die Suid-Kaap na Mbombela in Mpumalanga te fiets aflê.

Hiermee wil hy fondse insamel vir kinders vir skoolgeld en fondse vir tersiêre onderwys.

Hy het hande geneem met die Pretoria-gebaseerde Atterbury Trust wat soortgelyke doelwitte het.

“Dis 13 dae te fiets van George na Mbombela. Dit gaan lieflik wees om by Innibos met sy wonderlike gehore en unieke verhoë uit te kom,” sê Elvis Blue.

Hy sien reeds uit om die roete aan te pak en vra bewonderaars om sy sosiale media vanaf 1 tot 13 Junie dop te hou om skenkings aan die fondsinsamelingsveldtog te maak tydens sy reis.

’n Projek in Mbombela, waar kinders sonder ouers koshulp gedurende skoolvakansies kry, sal ook baatvind by die fietsrit.

Elvis Blue tree self 28 Junie by die Jacaranda FM-konsert op. Hierdie is een van vier hoofkonserte wat op die feesterrein aangebied word.

Een van die plekke vir feesgangers om beslis te wees is die Laevelder Boma-kuierteater op die feesterrein.

Hier word vertonings aangebied soos Die Begrafnisrede met Wynand van Vollenstee en André, die skreeusnaakse hipnotiseur, sal vrywilligers uit die gehoor in akteurs verander.

Daar is ook gesprekke deur gesprekvoerder Francois Jacobs met interessante bekendes soos Germandt Geldenhuys en sanger Bredan Peyper.

Alison Linde (voor) sorg vir die stalletjies by die Innibos Kunstefees en Sandra Jacobs is die bemarkings- en mediabestuurder. Foto: Elize Parker
Philna Scholtz, Leon Gropp en Adelene Niehaus. Foto: Elize Parker
Mizanne Hattingh en Leonie Bezuidenhout. Foto: Elize Parker

Vanjaar word die gewilde programitem, die ATKV-Boek-crawl, weer vir die eerste keer in vier jaar aangebied. Boekwurms sal op drie plekke op die karaktervolle dorpie, Kaapsehoop, saam met skrywers soos Etienne van Heerden en kunstenaars soos Refentse kan kuier.

Ander skrywers op die boekgesprekprogram op die feesterrein is Leon van Nierop, Amore Bekker en Riaan Grobler.

Soos altyd bly toneel en teater nie agter op Innibos nie.

Drie geliefde aktrises – Sandra Prinsloo, Rika Sennett en Jana Cilliers – is in drie afsonderlike opvoerings te sien.

Prinsloo pak die tema van die hiernamaals aan saam met David Ralph Viviers in Op die hoek van Styx en River is Nora per abuis met die dood oorgeslaan.

Sennett speel saam met Adriaan Havenga in Forte, ’n stuk oor ’n tjellis wat vir ’n geruime tyd nie aan ’n tjello geraak het nie.

Cilliers is deel van ’n musiekteaterproduksie, Mixtape van die Liefde.

Dr. Mathews Phosa, Sandra Jacobs en Andy Lubbe by die mediabekendstelling van die Innibos Kunstefees in Midrand. Foto: Elize Parker
Philna Scholtz, Leon Gropp en Adelene Niehaus. Foto: Elize Parker

Innibos vereer ook vanjaar vir Pretoria-sanger Juanita du Plessis vir haar ryk diskografie en haar lewenslange bydrae tot Suid-Afrikaanse musiek. Du Plessis het al meer as 20 albums en 7 DVD’s uitgereik en elkeen het Goue of Platinum status bereik. Sy tree tydens die kykNET-konsert op 29 Junie op.

Soos met enige fees bly kosstalletjies nie agterweë nie en feesgangers sal by ongeveer 40 kosstalletjies van topgehalte op die feesterrein kan smul.

Die Bosmôl, ook bekend as die besigste inkopiesentrum tydens die fees, gaan vanjaar ’n ware seevakansie-gevoel bring.

Strandsambrele, -balle en -handdoeke gaan die Bosmôl behoorlik na die strand verplaas.

Vir die kleingoed is daar gratis vermaak by SPAR Woelwaters. ’n Propvol vermaakprogram met baie pretaktiwiteite word van 11:00 tot 17:00 aangebied en dit is gratis.

Diegene wat beeldende kuns wil sien, kan na die feeskunstenaar Luan Nel se uitstalling Son of a shopfitter in die ATKV Kuns- en Boeke-Oase gaan kyk. Daar word vanaf 25 tot 29 Junie begeleide besoeke aan die uitstalling om 10:00 en 14:30 gedoen.

Tien van die Innibos Kunstefees-bestes om na uit te sien:

1. Toneel: Forte met Rina Sennett en Adriaan Havenga, 27-29 Junie

2. Dans: Noah deur The Forgotten Angle Theatre Collaborative, 28-29 Junie

3. Musiekproduksies: Boys R Back – The Ultimate Boyband Show, 28-29 Junie

4. Klassieke musiek: Musikale Meander in Sudwala-grotte met verskeie kunstenaars, 28 Junie

5. Leefstyl: KOStelik met Corli Prinsloo en Leon Gropp, 28-29 Junie

6. Boekgesprek: Mathews Phosa in gesprek met Annemarie van der Walt, 29 Junie

7. Lofprysing: Citybug LoofHom Innibos@Church Unlimited op 30 Junie

8. Musiek: Innibos Alternatief-konsert met Zaan Sonnekus en Die Heuwels Fanatasties, 29 Junie

9. Kleingoed: Fliep Flappers (kindertoneelstuk), 27-29 Junie

10. Musiekteater: Mixtape van die Liefde: Stemme van digters oor die liefde – Mathys Roets, Anna Davel, Jana Cilliers, Johny Klein, Stephanie Bartman, Laurinda Hofmeyr en Leon Gropp, 28-29 Junie

Kaartjieverkope open 8 April om 09:00 op Ticketpro: Persone met ’n Early Bird-kode kan vanaf Vrydag, 5 April kaartjies koop. Daar is afslag vir pensioenarisse op die feesterrein en kleuters en laerskoolkinders het gratis toegang.

Vir meer inligting besoek www.innibos.co.za

– Kliek hier om Sandra Jacobs oor die kunstefees te hoor gesels:

Voorsitter van die Innibos Kunstefees se direksie, dr. Mathews Phosa, het die verwelkomingsrede by die mediabekendstelling van die fees in Midrand gedoen. Foto: Elize Parker
Dr. Mathews Phosa, Sandra Jacobs en Andy Lubbe by die mediabekendstelling van die Innibos Kunstefees in Midrand. Foto: Elize Parker
Aktrise Cindy Swanepoel het die media vermaak tydens die bekendstelling van die innibos Kunstefees en sal self ook daar optree. Foto: Elize Parker
Sandra Jacobs, media- en bemarkingsbestuurder van die Innibos kunstefees met die twee programme vir onderskeidelik die feesterrein en die produksieprogram vir die fees. Foto: Elize Parker

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version