In 2020 gaan ons nommerpas met Innibos

Innibos, die Laeveld se beste en gewildste fees, is besig om sy vere reg te skud vir 2020 wanneer duisende besoekers weer op die dorp sal toesak vir die partytjie van die jaar.

By die Innibos-kantore woel en werskaf dit reeds om produksies te kies en ‘n program saam te stel wat elke smaak geval. Die fees skop natuurlik op 24 Junie af en maak weer Sondag 28 Junie klaar met die Loof Hom Innibos-konsert.

Dié jaar kan jy vir jou gesin Innibos-feesterreinkaartjies as Kersgeskenk koop omdat kaartjieverkope deur Computicket reeds oop is.

Geen wonder dié span loop elke jaar met die pryse weg nie! Van die bekende kunstenaars wat reeds vir die hoofverhoog bevestig is, sluit Bok van Blerk, Demi Lee Moore, Elandré, Ricus Nel, Snotkop en Francois van Coke in.

Die Huisgenoot SuperSokkie saam met Kurt Darren en vriende wat weer Woensdagaand plaasvind, beloof om ‘n baie lekker saamdans-kuier te wees, so stof maar jou partytjieskoene af!

Uitstekende teater, soos Kamphoer met die immergewilde Sandra Prinsloo, asook ‘n verskeidenheid van klassieke en kontemporêre musiekproduksies het reeds hul plek op die feesprogram verseker.
Sedert die ontstaan van die fees in 2004, waartydens ±25 000 feesgangers op Mbombela toegesak het, het die amptelike bywoningsyfer na 109 000 wat vanjaar saamgekuier het, gegroei. Dit het ‘n groei van 2 000 kaartjies beteken.

Feesbestuurder Andy Lubbe sê hulle is baie dankbaar vir die volgehoue ondersteuning nieteenstaande die moeilike ekonomiese klimaat.

Die Noordwes Universiteit doen jaarliks ‘n omvattende impakstudie en hul bevinding was dat die totale ekonomiese inspuiting vir Innibos 2019 op ongeveer R95 miljoen beraam kan word. Hierdie inspuiting bevoordeel die hele gemeenskap.

Om dié fees se ratte behoorlik te laat werk, is daar vanjaar bykans 1 000 tydelike poste gevul en meer as 600 addisionele werksgeleenthede is deur diensverskaffers soos skoonmaakdienste en sekuriteit verskaf.

LEES OOK: Ontmoet die man agter SA se grootste konserte

Tydens verlede week se direksievergadering het Andy en Innibos se bemarkingsbestuurder, Sandra Jacobs, met trots gedeel dat daar vanjaar 35 produksies was wat altesaam 17 259 produksiekaartjies verkoop het. Dit is 4 426 méér as in 2018!

Die topverkopers was Fire & Ice (1785), Donkie (1144), Katvoet (898), My seuns (708) en Voordele van eierwit (705). Vertonings wat uitverkoop is, het Eggo’s in die grotte, Be(t)roudag, die ClemenGold plaaswandel en jenewerproe, Schalkie en Cassie hou konsert, die Boeke-crawl, York Secret Waterfall Tour, die Komedie-crawl en Storievuur ingesluit.

“Die feesterrein was, soos altyd, die hart van die fees en met vier kuierverhoë was daar heeldag vermaak op die terrein. By Woelwaters is poppekas en speletjies vir die kleingoed aangebied. Die 300 kunsmarkstalletjies in die Bosmol het weer gesorg vir ‘n heerlike koopervaring en feeskos. Daar was vanjaar bykans 50 nuwe uitstallers wat nog nie voorheen by die fees was nie,” het Sandra gesê.

LEES OOK: Innibos wen fees van die jaar vir die vierde keer

By die Innibos National Craft Project het meer as 1 200 kunstenaars van regoor Suid-Afrika ingeskryf. Die geleentheid is deur die LUR van sport, kuns en kultuur geopen en verskeie rolspelers van nasionale belang was teenwoordig.

Die feesbestuur het aan Laevelder gesê hulle gaan 2020 binne met hope slim en kreatiewe idees wat sal verseker dat besoekers elke oomblik van hul “nommerpas” fees gaan geniet.

Exit mobile version