VIDEO EN FOTOS: Nelspruit Eisteddfod 2018 gala-aand: Die kunste saam op een verhoog

Die eisteddfod het verlede Vrydag tot 'n einde gekom.

MBOMBELA – Die hartklop van die kunste was Vrydagaand op die Communio-kerk se verhoog te sien (en te hoor) toe die 2018 Nelspruit Eisteddfod dié kompetisie met hul gala-aand afgesluit het.

Die gehoor het vooraf opgewonde gegons oor die sterre van die kompetisie wat die verhoog opgehelder het.

Die aand het afgeskop met die koor van Riverview Preparatory School wat ‘n tradisionele Setswana-kleurspel sowel as Pharell Williams se treffer “Happy” gesing het.

Daarna was die instrumentale-afdeling aan die beurt wat gesorg het vir hope vermaak op klavier, kitaar en harp. Die afdeling is afgesluit deur St Peter’s School se marimba-groep wat ‘n allemuntige 98 persent in die kompetisie behaal het.

LEES OOK: Eisteddfod 2018: All the world is a stage at the English drama category

In die Engelse drama-afdeling was Christn Engelbrecht eerste aan die beurt. Hierdie talentvolle jong dame het aan sewe items in vier afdelings deelgeneem met ‘n gemiddeld van 91,4 persent. Sy het ook op die aand die junior veelsydigheidstrofee ontvang.

Die vokale-afdeling het gevolg waar, onder andere Xander Goosen die gehoor bekoor het. Goosen het aan vyf items in vyf afdelings deelgeneem en het ‘n gemiddeld van 92 persent behaal en het met die senior veelsydigheidstrofee weggestap.

Na die Afrikaansdrama-afdeling was die eisteddfod-voorsitter, Thea Möller aan die beurt. “Ons het vanjaar bewys dat ons standaarde selfs hoër as verlede jaar is. Waar die gemiddeld vir verlede jaar 83 persent was, is dit vanjaar 85 persent,” het Möller gesê. Sy het bygevoeg dat daar vanjaar 7 034 deelnemers was en dat hulle beslis vir hulle harde werk beloon is.

LEES OOK: Van klavier tot harp by vanjaar se eisteddfod

Die aand is afgesluit met die dans-kategorie en ‘n massa-optrede waar al die vorme van die uitvoerende kunste bymekaar gekom het.

 

 

 

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version