Plaaslike modelle presteer by nasionale kompetisie

Die Ramps to Runway-modelle van Mbombela en Witrivier het weer vanjaar uitsonderlik presteer by Mnr. & Mej. Suid-Afrika 2018.

MBOMBELA – Die kompetisie is van 3 tot 7 April in Pretoria gehou en die modelle is in verskeie kategorieë beoordeel insluitend fotogenies.

 

LEES OOK: Carmen gaan inwoners onder die sterre vermaak

 
“Met trots in my hart is dit werklik ‘n voorreg om elke model se transformasie te kan sien en beleef. Dit is belangrik dat elke persoon besef dat dit nie nodig is om hulself op te weeg of te vergelyk met ander nie en dat hul fokus dan nie op ander is nie, maar eerder op dit wat werklik saak maak – natuurlik hulself as mens,” vertel Manda Gomes, afrigter by Ramps to Runway.

 

LEES OOK: Rampant models run away with accolades
Shaun Hillicks (18)
Vanjaar is ek as die Face of South Africa 2018-wenner aangekondig en ek voel baie goed hieroor want ek het baie hard vir hierdie kompetisie voorberei. My planne vir die toekoms is om ‘n modelafrigter te word en sodoende ander te inspireer.
Ek het hierdie jaar ook besluit om aan Mnr. Mbombela Teen deel te neem en dit is die titel wat ek baie graag wil verwerf. Face of South Africa 2018 is beslis my grootste prestasie tot dusver.

Shaun Hillicks.

Melissa Ley (15)
Ek is vanjaar die wenner van die “public choice”-toekenning asook die Gesig van SA-toekenning. Verder is ek ook Mej. Junior SA Mpumalanga en Mej. Fotomodel SA vir 2018. Dit skep vir my ‘n platvorm om meer liefdadigheidswerk te doen. Ek is baie trots en dankbaar vir almal wat my gehelp het. My plan is om in September in Turkye aan ‘n internasionale kompetisie deel te neem. Ek wil graag eendag vir Mej. Suid-Afrika inskryf en die geleentheid hê om met daardie titel weg te stap. My grootste prestasie tot dusver: Gesig van SA 2018-wenner.

Melissa Ley.

Bontle Ndluvu (11)
Ek is Mej. Mini-tiener SA Mpumalanga 2018, waaroor ek baie opgewonde is. Ek wil graag op nasionale en internasionale vlak deelneem en een van my grootste drome is om as koningin gekroon te word op internasionale vlak. Die bogenoemde titel is my grootste prestasie tot nou toe.

Bontle Nduvu.

Kerri Ley (21)
Ek is tans Mej. Junior Mpumalanga 2018, Mej. Junior Fotomodel SA en eerste prinses van Gesig van SA 2018. Ek is dankbaar vir die geleentheid wat ek gekry het om my provinsie te verteenwoordig. Ek is trots op myself en dankbaar vir almal wat my bygestaan het. In September gaan ek in Turkye deelneem. My droom vir my modelloopbaan is om in die voetspore van my held Iris Mittenaere te volg wat al as Mej. Heelal gekroon is. Die grootste prestasie wat ek tot dusver behaal het, is om as eerste prinses in Mej. Tiener SA 2017 gekroon te word.

Kerri Ley.

Anastacia Elliott (15)
My prestasie by vanjaar se kompetisie is Mej. Persoonlikheid en beste aanddrag in die petite-tienerafdeling, waaroor ek baie gelukkig is. Ek hoop om ‘n verskil in my gemeenskap te maak en bewustheid te skep met my titel. In Junie neem ek aan Mej. Tiener Afrika deel en ek hoop om die titel huis toe te bring. Ek sou sê my grootste modelprestasie is die Mej. Persoonlikheid-titel, maar ek het ook verlede jaar die titel Mej. Mpumalanga Vertoningsambassadeur verower.

Anastacia Elliott.

Miguel Schofield (14)
My individuele prestasies wat ek vanjaar behaal het, sluit in Beste Algehele Junior Manlike Model SA vir 2017 asook Mnr. Mini-tiener SA vir 2017. Dis ‘n fantastiese ondervinding en ek kon soveel oor myself en ander leer. Ek beoog om my verskillende vlakke van modelwerk te voltooi en ek stel belang in iets soos modelwerk vir ‘n handelsmerk. Ek poog om die titel van Mnr. Wêreld Tiener te wen by die internasionale kompetisie wat later vanjaar in Turkye plaasvind.

Miguel Schofield.

Edrich van der Merwe (13)
Vanjaar se prestasies was om as Klein Mnr. SA 2017 en om my titel van Klein Mnr. Gesig van SA 2017 aan my opvolger van 2018 te kon oorhandig.Dit sal altyd deel wees van my maar vir nou gaan ek bietjie op my skoolloopbaan fokus. Bygesê, ek sal graag in Turkye aan Mnr. Wêreld in my ouderdomsgroep wil gaan deelneem. My grootste prestasie tot dusver was om as Klein Mnr. SA 2017 gekroon te word.

Edrich van der Merwe.

LEES OOK: Dihan Putter: Hoofseun met ‘n goue stem

Exit mobile version