LifestylePeople

Versamelaars

BURGERSFORT – Antieke geld en meer as 1 500 koffiebekers van regoor die wêreld, dit is maar twee van baie versamelings wat inwoners van die dorp op hul kerfstok het. Marlene Kleynhans is ‘n geldversamelaar, van die oudste tot nuutste. Hierdie gier het kop uitgesteek toe haar oupa, Jan Steenkamp vir haar stories vertel het …

BURGERSFORT – Antieke geld en meer as 1 500 koffiebekers van regoor die wêreld, dit is maar twee van baie versamelings wat inwoners van die dorp op hul kerfstok het.

Marlene Kleynhans is ‘n geldversamelaar, van die oudste tot nuutste. Hierdie gier het kop uitgesteek toe haar oupa, Jan Steenkamp vir haar stories vertel het wat aan elke muntstuk

en noot gekoppel is. ‘n Jaar voor sy dood het hy sy versameling aan Kleynhans bemaak omdat sy die enigste kleinkind was wat steeds daarin belanggestel het. “Ek wou nog altyd my oupa se versameling gehad het, en nou is dit my kleinood.”

Haar gunsteling uit die byna 100 muntstukke en agt note is ‘n pennie wat 10 jaar ouer as haar oorlede oumagrootjie is. “Dit verstom my om te dink sy het met daardie geld met ossewaens oor die berge na Lydenburg getrek,” vertel Kleynhans.

Sy vul haar oupa se versameling steeds aan en probeer ook om Suid-Afrikaanse geld te bewaar. Haar R1-muntstukke volg chronologies op mekaar. “Ek sal aanhou versamel want ek hou van die geskiedenis wat dit vertel en die agtergrond van waar dit vandaan kom,” vertel sy.

Koffiebekers is Dalene Jansen se passie. Sy versamel alle groottes en vorms. Sy het in 1993 ‘n beker as Kersgeskenk gekry en dit het haar laat wonder hoeveel soorte bekers daar wêreldwyd is. “Dis toe dat ek ontdek het dat daar oral koffiebekers is en die versamelaarsgogga het my gebyt.”

Voor sy haar kon kry, het sy meer as 1 500 in haar besit gehad. Van hulle is in bokse gepak “want dit is net te veel”, en ander word op rakke teen ‘n muur en op kaste uitgestal. Een maal ‘n jaar is dit die groot taak om hulle te was. Daarvoor word twee huiswerkers se hulp ingeroep.

“Ek het baie Suid-Afrikaanse voorbeelde, maar ook talle buite-landse bekers wat mense vir my van oorsee af bring,” sê Jansen. Die goedkoopste een in haar versameling was 50c en die duurste R500.

Volgens haar sal sy steeds aanhou om dit te versamel, maar dan moet dit ‘n besonderse beker wees. Haar gunsteling is van ‘n man wat ‘n suur gesig trek. Dit is volgens haar ook die beker met die meeste geskiedenis. “As versamelaar is dit moeilik om by iets besonders verby te loop,” sluit Jansen af.

Back to top button