Editor's note

Wanneer jy engele raakloop

Daar is engele tussen ons. Die soort sonder vlerke. Wat baie keer so in die verbygaan jou regtig rààk sien en help sonder om twee keer te dink.

Gister so tussen die skoonmaak vertel ons kantoorfeetjie van iemand wat onlangs haar inkopies vir haar betaal het.

Sy het ‘n paar noodsaaklikhede gaan koop toe iemand haar op die skouer tik. “Gaan haal jou goed. Ek sal vir dit betaal,” deel hy haar mee. Skoon geskok het sy eers na hom gestaar, te bang sy vat goed en moet dan skaam by die betaalpunt staan as hy verdwyn.

Met aanmoediging gaan haal sy toe die paar produkte, maar hy moedig haar aan om nog te gaan haal. “Het jy kinders? Hoe oud? Kinders hou gewoonlik van hierdie,” het hy gesels terwyl hy pakke en pakke lekkergoed in die mandjie gelaai het.

By die betaalpunt het hy haar inkopies saam met syne betaal, terwyl die vroutjie agter die toonbank in verbasing hom aangestaar het.

Die kantoorfeetjie was self so geskok sy kon net skaam dankie sê voor sy in trane uitgebars het.

Selfs die vroutjie agter die toonbank het haar ‘n drukkie gaan gee en gemeen dat ‘n mens min sulke wonderlike mense raakloop.

“Jy weet dit was ‘n engel, ne?” het ek met ‘n glimlag gesê.  “Ja, die Here sorg mooi vir my,” het sy geantwoord en dit was duidelik dat sy nogsteeds nie heeltemal die gebeurtenis verwerk het nie.

Die storie het my laat dink aan die engele wat ek al van gehoor het en self ontmoet het.

Ek het weer teruggedink aan die pay-it-forward-veldtog wat vir ‘n ruk groot in die nuus was. Dit het behels dat jy iets goeds aan ‘n vreemdeling doen en die uitwerking van hierdie random acts of kindness het wyd uitgekring.

Mense het geld gegee, goed betaal of skenkings gemaak en selfs die wat nie veel gehad het nie, het hulle bietjie aan ander wat swaarder kry gegee.

Ek het het onlangs weer gehoor van iemand wat petrol gaan ingooi het en toe hulle wil betaal klop iemand aan die venster, sê dat hulle graag daarvoor sal wil betaal, voeg daad by die woord en stap toe weer weg.

Elke keer as iemand swartgallig wil raak oor Suid-Afrika, sy mense en die toekoms, haal ek weer hierdie stories uit hul laaikas, vryf saggies oor die leeromslag en gesels ek hoop en liefde totdat die hoorders weer glimlag.

Back to top button