Hy raps ons met die waarheid

Hy was skaars op die verhoog toe begin die kykers al lag.

‘n Volgepakte teater was vir ‘n wyle onder die indruk hulle is by die verkeerde venue toe ‘n man met ‘n kitaar sy verskyning maak.

Hy het rustig begin strum, en net toe die skare begin rondkyk en wonder waar is die koddige Jonathan, maak hy sy verskyning in Radio Raps: Laat ek jou só se.

Sy skewe hoed en verwronge gesigsuit-drukkings is genoeg om enige Afrikaner, wat kan vrede maak met ‘n vloekwoord hier en daar, te laat skater.

Toe begin hy sing. Ja, jy het reg gelees. Hy begin sy vertoning en sing oor hoe hy aanjaag as hy te veel drink – oor die gevolge wat meeste mense sidder om oor terug te dink.

Kom ons wees eerlik, baie van ons het daai een geheim wat ons so diep as moontlik probeer begrawe. Maar, Jonathan het ‘n manier om dit weer op te grawe, sonder om te blik of te bloos.

Hoeveel van die stories waar is, weet ons nie, maar een ding is seker, hy spandeer baie tyd in kroeë en voor die braaivleisvuur, drink baie, maar is nie ‘n alkoholis nie, en het heel waarskynlik al baie goed gedoen waaroor hy baie spyt is.

Hy slaan die spyker op die kop oor dinge wat ons daagliks irriteer, maar is te bang om iets daaroor te sê. En dit is hoekom sy inhoud so snaaks is, want almal kan op een of ander manier hulself daarmee vereenselwig.

Sy uitlatings kan hom dalk binnekort een van die top- komediante in die land maak.

“Jy kan so ordentlik wees soos wat jy wil – ‘n kantpaadjie hê en jou meisie se stoel vir haar uittrek, maar op ‘n bachelor’s is almal ‘n vark.”

Hy sê dat sekere goed net werk in ‘n sekere taal. “Ek kon nog nooit regkom met die ‘th’ klank in Engels nie. As ek dit sê, klink dit of my kop weld.

“As ek with wil sê klink ek soos ‘n waghond, whôf!”

Sy opinie oor verlof is dat mense nét werk om verlof te kry. “Ek verkies bos eerder as die see. Waar ander mense dink son en see, dink ek rash, en net as hy weg is, is die vakansie verby.”

Hy vertel hoe sy ma hom altyd só gesmeer het met sonbrandroom, dat hy gelyk het soos ‘n vars dr*l in ‘n kat se sandbak.

“Sy het ‘n troffel en ‘n roller gevat, en twee lae SPF vier miljoen aan my gesmeer.

“Ek was so gesmeer dit het gelyk of ek op pad is na ‘n Xhosa-inisiasieskool, met ‘n hoed op wat so groot is soos ‘n lapa en vlerkies wat sewe bar gepomp is – iets soos uit ‘n Benoni-gim.”

Hy vertel dat hy een keer ‘n haai in die see teëgekom het, en só vinnig uitgehardloop het dat ‘n kind se Polly Otter in die slag gebly het. “My pêlle het my omtrent ‘n kilometer in die binneland gekry.”

Sy opinie oor Fifty Shades of Grey en hoe hy gedink het hulle gaan darts speel in die playroom, hoe gemaklik jy in ‘n verhouding kan raak, sy oom se toon wat so dik is soos sy nek en lyk of dit ‘n jogabeweging doen, te veel kussings op sy bed, poepe wat klink soos ‘n flat bottel Tab wat jy oopmaak, en soveel ander oomblikke, het die skare behoorlik laat skater.

Dit is duidelik dat Jonathan nie omgee om homself voor ‘n bus in te gooi, om ander te laat lag nie.

Foto’s: Innibos maak jou litte los

Wat’s nuus by Innibos?

 

Exit mobile version