Die waarheid bly altyd verborge

Teatergewys is Die Vrou uit die See een van die sterkste debuutproduksies van Innibos 2016.

Die Vrou uit die See, deur Hendrik Ibsen

Met Jana Strydom, Neels van Jaarsveld, Erik Holm, Kaz McFadden, Amalia Uys, Theodore Jantjies, Natasha Dryden en Gavin van den Berg

Regie: Henry Milne

Vertaling: Hugo Taljaard

Nelspruit se Stadsteater is gewoonlik die “teater-gastehuis” vir wyedoek- glansproduksies wat uit ‘n era dateer waaroor mense in hul jeug skaars enige herinneringe kan oproep. Des te meer is dit juis ‘n oproep aan húlle om die kans te benut om ‘n epiese dramaproduksie by te woon in ‘n ouditorium wat daarvoor ontwerp is. Ibsen se laat-Romantiese meesterwerk. Die Vrou uit die See (1888) is ‘n liefdesverhaal wat stam uit ‘n tyd toe die mens se kennis oor die psigologie steeds sterker begin uitbrei het.

Ibsen was gefassineer deur mense se ware beweegredes rondom hul mees verborge geheime. Ook die feit dat hulle so skaam was om oor hulle werklike behoeftes rondom die liefde te kommunikeer, het hom gedryf om daardie onderliggende lewensdrif as dominerende temas in sy drama-oeuvre te laat uitstaan. In elkeen van hulle kom aspekte daarvan na vore. Hier is die vroulike hoofkarakter, Ellida (Jana Strydom), iemand wat haar ideaal rondom die liefde opgeoffer het. Sy het getrou met ‘n wewenaar, dr. Wangel (Neels van Jaarsveld), met twee dogters, Bolette (Amalia Uys) en Hilde (Natasha Dryden).

Daardie huwelik het haar skaars vervul. Ellida het daagliks die see opgesoek as troosmiddel, want ver weg, in haar diepste gedagtegange, was daar ‘n matroos (g’n grap word met dié woordspel bedoel nie!) wat sy op g’n manier uit haar gedagtes en gevoelslewe kon weer nie. Hy het beloof om na haar terug te keer en daad by die word gevoeg. Die liefdesproblematiek word deur Ibsen soos klei in ‘n beeldhouer se hand gesmee en jy sit daar as 21ste eeuse teaterganger en verwonder jou oor hoe eietyds die verhaal hom afspeel.

Wilhelm Disbergen se stelontwerp, beligting en waarskynlik ook projeksies van veel meer as net die see, laai die visuele aspek met ‘n simboliese waardigheid sonder om ooit kitsch-agtig te raak. As regisseur bewys Henry Mylne weer eens dat sy visie op klassieke werk priemend op die hart inwerk, met sy beklemtoning van karaktervolle details rondom die hoofrolspelers, terwyl miniskule, veelseggende detail in die bykarakters soms na vore kom.

Jana Strydom broei en boei rondom Ellida se dieper emosies. Sy suggereer haar konflikte sonder enige teken van melodrama. Dit kommunikeer bykans op ‘n onderbewuste vlak en is juis daardeur treffend. Neels van Jaarsveld verwoord die deurlopende innerlike konflikte binne Wangel se gemoed met oortuiging en genuanseerdheid. Erik Holm speel Arnholm met ‘n deurlopende sin vir karakterontwikkeling, terwyl almal in die kleiner rolle die kuns verstaan dat daar geen klein(er) rolle by Ibsen bestaan nie.

Teatergewys is Die Vrou uit die See een van die sterkste debuutproduksies van Innibos 2016.

 

Exit mobile version