Vonke spat en harte waai tussen susters

“Net omdat jy dig is, beteken nie dat jy kan dig nie…”

Paul Boekkooi

Twee Susters, deur Chris Vorster

Met: Hennie Jacobs en Chris Vorster.

Regie: Chris Vorster

In Twee Susters ontmoet ons twee van die drie susters uit Anton Tsjechof se beroemde drama Drie Susters met sy versugtende leitmotief wat daarop dui dat aldrie vir verskillende persoonlike redes na Moskou hunker en bevry wil word van ‘n verstikkende kleinburgerlike plattelandse bestaan.

In Vorster se teks bly Olga, die oudste en tegelyk ook die matriarg van die drietal, asook die middelste suster, Marsha, agter op die familieplaas. Die langdurige vetes tussen dié twee wat sedert hul kinderdae gesidder het, breek nou los in haarskerp verbale beskuldigings wat heen en weer geslinger word en waarin hulle mekaar wil uitoorlê, maar nie werklik daarin slaag nie, met Olga wat aanvanklik die oorhand het oor Marsha. Die bitsigheid tussen hulle werk oor tyd bevrydend in op Marsha wat vir die eerste keer in haar lewe haar kop uithaak en die proses deur haar hele liggaam opvolg.

Met albei mansakteurs in gepaste periodekostuums, word dit grensloos intense bekgevegte, met Chris Vorster wat hiermee een van sy beste en mees oorspronklike tekste die lig laat sien het. Dit is ‘n ideale voertuig vir homself en die jonger akteur Hennie Jacobs. Gehore moet liefs ‘n verwysingsraamwerk rondom Drie Susters hê en die teaterkonvensies ken om voluit baat te vind by die knap komiese en fantasieryke ontvlugting wat Twee Susters bied.

Dialoog en fisieke spel is puik geïntegreer, terwyl die teks soms heerlik met woorde speel, soos wanneer Olga vir Marsha op een plek sê: “Net omdat jy dig is, beteken nie dat jy kan dig nie…” En daar is tientalle soortgelykes. Hierdie is kreatiwiteit bevry van enige formulegerigtheid wat hoofsaaklik deur oorspronklikheid en artistieke adrenalien voortgedryf word.

Exit mobile version