Rock skud die aarde op Innibos-hoofverhoog

Die Heuwel Fantasties, Kahn Morbee, Dan Patlansky, Albert Frost, Black Cat Bones, Francois van Coke, Karen Zoid en Prime Circle het Donderdagaand die hoofverhoog aan die brand gespeel.

Donderdagaand se kykNET Rock-konsert het aan Dan Patlansky en Albert Frost behoort. Dié blues-rock gode het tot die ewige verbetering van almal wat dit kon beleef, saam opgetree.

Die rockprogram op die hoofverhoog was ‘n nuutjie vir Innibos, wat in der waarheid die enigste hoofstroomfees is wat nog ‘n substansiële rockprogram voorhou. Dit is uitstekend ontvang.

Dan en Albert het by tye saam getokkel, en hulself in ‘n kitaarspeel-vete begeef, altyd in perfekte harmonie. Dit was deurgaans meer snaar as stem, maar die bloed in min se are kon die duo se growwe grommerige stemme weerstaan toe hulle hul gedagtes gedeel het.

Soos ‘n kollega dit gestel het, het hulle met hul snare ons verlore drome opgeroep en ons met hul evokatiewe stemme herinner aan wat ons eens geglo het.

Selde tevore het ‘n joernalis so gesoek na die korrekte vertaling van “awesome”. Sou ontsagwekkend hier werk? Wat dit dan ookal was, dit het wolwefluite van die, teen hierdie tyd, totaal meegevoerde skare gelok.

Sake is rustig geopen deur Die Heuwels Fantasties. Kahn Morbee was volgende met solo Parlotones-liedjies asook ‘n prettige “Lisa se klavier”-mengelmoes.

Black Cat Bones se energie was genotvol om te aanskou.

Karen Zoid het haar tydgleuf met ‘n roerende “Engel” geopen en die gehoor verder bederf met verskeie van die mengelmoese waarvoor Die Republiek van Zoid Afrika bekend geword het insluitend “Neem my op vlerke”, die skrywer se gunsteling.

Sy het “As musiek begin speel” opgedra aan Francois van Coke se ongebore babatjie – wat hulle vandeesweek bekend gemaak het is ‘n dogtertjie. Die twee het ‘n bietjie saamgesing voordat Prime Circle aan die beurt was. Francois het toe met liedjies van sy debuut-soloalbum Francois van Coke afgesluit.

Die top-twee RockRumoer-finaliste Tuin en Jonathan Peyper Trio het ook elk die geleentheid gehad om ‘n item op te voer. Daarna is die wenner van die kompetisie bepaal deur die skare se verbale ondersteuning van elk te bepaal – deur letterlik die desibels te meet.

Tuin is toe as die wenner aangekondig. Die groep se baasbrein, Tanya Schoeman, het gesê hulle het hoegenaamd nie verwag om te wen nie.

“Die ander deelnemers is so ryk in talent.” Hulle het “Kinders van die nag” gekies, nie omdat dit noodwendig hul beste liedjie is nie, maar die boodskap oordra waaroor sy die sterkste voel, het sy aan Muskiet verduidelik.

“Dit is ‘n nuwe song oor iets wat ek regtig op die hart dra, die feit dat almal so in bokse gesit word van wat ons moet wees. Ek glo sterk in vryheid en dat almal dit moet hê.”

Bestaande uit die ongelooflike musikante Alouise Teems, Elmi Botha en Annie Gurtis neem Tuin neem tans ‘n CD op – onafhanklik. Hulle en Jonathan Peyer Trio se musiek is by

VH Music beskikbaar.

Innibos se bemarkings-bestuurder, Sandra Jacobs, het aan Muskiet bevestig dat dit ongetwyfeld die beste bygewoonde Donderdagaand in Innibos se geskiedenis was, en feegangers kan seker wees dat dit volgende jaar weer op die program

sal wees.

Om Karen te parafraseer: Rock op die hoofverhoog was nie te veel nie, ook nie te min nie, maar nie te veel nie.

Exit mobile version