Koekedoor getoor by Innibos

Mareli die bakster en Riaan die mentalist span saam.

Wat kry jy as jy ‘n Koekedoor en ‘n mentalist saam op ‘n verhoog sit? Alles behalwe die gewone gekul-jou-hier en kul-jou-daar. Nee, hier is geen koekedore – of koeke – middeldeurgesaag nie en ook geen hase uit hoede getrek nie.


Mareli Visser van Koekedoor 1-faam en die plaaslike kulkunstenaar Riaan Laubser span kragte saam in die prettige collaboration, Koeketoor, ‘n wenresep van vermaak vir die informele en ontspanne atmosfeer in die Mhoba Rum Boma Kuierteater op die Innibos-hooffeesterrein.
Met haar voorskoot wat lees, “Moenie aan my koek raak nie”, het die skreeusnaakse Mareli geen tekort aan staaltjies nie en vertel graag hoe sy begin bak het en uiteindelik op die kassie beland het.
Riaan het egter ‘n meer uitdagende rol en poog om die gehoor te laat glo dat hy gedagtes kan lees. Hy skep dié illusie deur sielkundige en kulkunstegnieke, asook sy kennis van die menslike natuur en ‘n skerp oog vir liggaamstaal.
Mareli en Riaan lewer puik interaksie met die gehoor wat bydrae tot die element van misterie. Sommer met die intrapslag is feesgangers betrek, maar waar Riaan se kulkunsies te goed is om waar te wees, kan mens nie help om te wonder of daar nie dalk vooraf met van ons medefeesgangers gekonkel is nie.
Ten spyte van die feit dat daar nie ‘n koek of eetding in sig was nie, bied Mareli se vrolike gekekkel saam met Riaan se illusies ‘n unieke ondervinding wat oueres én
jongeres sal vermaak en laat wonder.
Hierdie produksie is 40 minute lank en bied ‘n welkome ontvlugting van die geharwar op die res van die feesterrein terwyl jy ‘n ietsie kouds kan geniet.
Koeketoor is weer vandag, Saterdag 2 Julie om 15:00 in die Mhoba Rum Boma Kuierteater te siene.

Exit mobile version