Dis die klein dingetjies wat tel

Snaakse en vreemde situasies bly hul voordoen, maar albei akteurs voer uiters verfynde en merendeels baie lagwekkende balanstoertjies tussen uitbundigheid en meer deerniswekkende emosies uit.

Die Wagkamer, deur Saartjie Botha

Met: Elize Cawood en Wilson Dunster

Regie: Johan Engelbrecht.

Artistieke afronding: Gerrit Schoonhoven

Humor dra talle maskers of soms sommer maklik hantereerbare mombakkies en die ontvangs daarvan deur ‘n gehoor draai baie om hul kollektiewe lewenservaring. Soos wat ‘n mens ouer word beweeg meeste mense weg van die platvloerse of die laagste gemene deler-humor en begin liefs die meer gevatte of verfynde alternatiewe waardeer, soos dié wat in die spreekwoordelike “lag met ‘n traan”-kategorie val.

Die teaterpaar Elize Cawood en Wilson Dunster toer al ‘n geruime tyd met stukke wat die soms komiese gevolge van ‘n skielike konfrontering met die realiteite rondom ouderdom sterk in die kollig plaas. Die Wagkamer is vir hulle deur Saartjie Botha geskryf en ‘n selfs ‘n nuwer teks deur haar, ‘n Geworry, is onlangs deur hulle in Pretoria se Atterbury Teater op die planke gebring – ‘n stuk wat emosioneel veel dieper sny as Die Wagkamer en jou met ‘n stomp in die maag laat.

Dit wat eens’n teaternis was, naamlik stukke waarin slegs ou(er) akteurs speel, beweeg blykbaar nou stadig maar seker nader aan die middelmoot, soos titels soos Ooms asook die getal oorwegend ouer akteurs in ‘n klug soos Daa’ Gaat die bruid van getuig en moontlik ook Hond deur Dana Snyman wat deur Frank Opperman opgevoer word, maar nog nie deur my gesien is nie.

Gehoorgewys het Cawood en Dunster oor slegs enkele jare ‘n lojale gevolg by diemeerderheid van kunstefeeste opgebou. Dit het alles te doen met die weldeurdagte tekste wat deur ‘n hoë graad van tipiese situasieherkenbaarheid voortgedryf word en wat, baie betekenisvol veral deur middeljarige tot ouer gehore ondersteun word.

Hier, as onderskeidelik Frieda en Bertie Botha, wat vir die eerste keer na ‘n lang huwelikslewe hul voete plaas binne ‘n baie bekrompe vertrek in ‘n ouehuis waar hulle die res van hul lewens gaan slyt, is ons die loervinke wat deel word van hul gedeeltelike ontnugtering en verwardheid oor waar hulle hul geliefde meubels wat iewers op ‘n trok is op pad na hulle toe, sal plaas.

Baie loop verkeerd – tot selfs die telefoonoproepe wat hulle ontvang – want Bertie kry bykans ‘n hartaanval en begin bewe wanneer sy (nuwe) selfoon begin lui. Al is hul buurvrou bly oor veral Bertie se koms (hy’s ‘n mechanic wat enigiets kan fix) is hy duidelik onseker daaroor of hulle werklik ‘n nuwe lewe so naby aan ‘n sorgeenheid (waarin hulle eendag sal beland) kan begin.

Snaakse en vreemde situasies bly hul voordoen, maar albei akteurs voer uiters verfynde en merendeels baie lagwekkende balanstoertjies tussen uitbundigheid en meer deerniswekkende emosies uit. Die teks is vol van mikrodetail rondom die klein dingetjies in die lewe wat tog uiteindelik die groter detail inkleur en sodoende verganklikheid beveg wat in ‘n groot mate die teks bo die alledaagse verhef.

Die Wagkamer is ‘n uurlange herinnering aan die feit dat die lewe in hoofsaak dít is wat jy daarvan maak. En daarvoor sê ons vir die drie Botha’s baie dankie.

Exit mobile version