FeaturesInnibos NuusLifestyle

Aftrede beteken nie tyd vir boedel oorgee

Chris Vorster se tekste het soms 'n kragtige geladenheid wat baie deeglik deurdink is, maar uiteindelik as synde te serebraal na vore kom.

Ooms, deur Chris Vorster.

Met Tobie Cronje en Gerben Kamper.

Regie: Chris Vorster

Baie ouer-wordende mans, of hulle nou ooms, of oujongkêrels van enige moontlike seksuele oriëntasie is, raak mos maar vervelig, intellektueel afwesig en soms sommer kens. Maar nie oompie Frans (Gerben Kamper) wat ‘n tydjie gelede, of oompie Pierre (Tobie Cronje) wat taamlik onlangs ingetrek het by Huis Phoenix iewers naby die Kaapse kus wat bekend is vir sy aanloklike-slagspreuk: “Die hemel se voorkamer.”

Daar is maar min vrede tussen hulle. Pierre is vol ipekonders en hy verwys tot vervelens toe daarna, terwyl Frans ‘n eiewyse streep het en byvoorbeeld die teks wat hulle vir hierdie opvoering instudeer het, steeds wil verander. Hy irriteer Pierre grenseloos met sy getorring.

My intuïsie was die enige onrustigheid rondom Ooms. Chris Vorster se tekste het soms ‘n kragtige geladenheid wat baie deeglik deurdink is, maar uiteindelik as synde te serebraal na vore kom.

Hier is daar tog wel meer ewewigtigheid tussen die kreatiewe aspekte soos intrige-ontwikkeling, asook die verwesenliking daarvan op die verhoog met ‘n deugdelik uitvoerbare regieplan. Tussen Cronje en Kamper is daar oorgenoeg geloofbare verhoog-alchemie wat end-uit flink bly funksioneer het en slegs uiters selde momenteel inplof. Ook hul fisieke spel is gelykstaande aan dié van veel jonger akteurs.

Agter op die verhoog verskyn projeksies wat relevant tot die verhaal is en neem helaas ook een van die funksies van teatergangers oor waartoe hulle vroeër wél in staat was, naamlik om self hul eie verbeelding en kreatiewe fantasie in te span.

Nou moet ons die dialoog, die akteurs en die prentjies op die agterdoek volg omdat moderne tye dit vra, maar maak dit van die eietydse ervaring ‘n ryper een as die tradisionele een? Ek twyfel.

Die grootste deel van die intrige draai rondom die ooms se ontsnappingspogings en is deels nogal vindingryk, maar raak naderhand te uitgerek. En daardie toneel waar twee verhooghelpers ingeroep word om die ondergrondse tonnels uit te grawe, is funksioneel redelik sinneloos.

Ooms is ‘n stuk met die potensiaal om baie binnepret onder teikengehore te saai. Dit is nou almal wat besef hoe vervelig die lewe ná aftrede kan word.

Oom Pierre en oom Frans het net besluit: basta met daardie matrone uit die hel en almal wat hulle met enige vorm van reëls wil inhibeer. Dit is dié vryheidsdrang en die skerp humor wat dit periodiek woema gee, maar daar moes net méér daarvan wees.

Back to top button