‘n Meesterstuk van rock en pop

Wat kry jy as Kurt Darren en Karen Zoid op 'n Woensdag om 10:00 op die verhoog van 'n hoërskoolsaal in Mbombela optree? 'n Gatskopkonsert wat die toon aangee vir die ander musiekproduksies by vanjaar se Innibos.

Wat kry jy as Kurt Darren en Karen Zoid op ‘n Woensdag om 10:00 op die verhoog van ‘n hoërskoolsaal in Mbombela optree?

‘n Gatskopkonsert wat die toon aangee vir die ander musiekproduksies by vanjaar se Innibos.

Enige twyfel oor dié onwaarskynlike sangpaar het verdwyn toe die rock- en die popster die vertoning met ‘n anderse verwerking van Kurt se treffer, “Meisie, Meisie” afgeskop het, verweef met Elvis Presley se “Always On My Mind”. Karen het Kurt se siel uitgetrek oor die lirieke van sy liedjies.

Hy het hom dit tot groot vermaak van die gehoor laat welgeval. Karen het onder meer geskerts oor die “sosiale kommentaar” wat Kurt kastig op Eskom lewer in sy “Af en Af”.

“So julle moet net bietjie dieper kyk na my liedjies. Hulle is nie vlak nie,” het Kurt laat hoor, veral nadat Karen verduidelik het dat sy “Kaptein” na Jacob Zuma verwys en die eiland vol kinders na Nkandla.

‘n Besonderse verwerking van Karen se “Engel” en Kurt se “Hemel op Tafelberg” het vir ‘n rustige verposing gesorg, voordat daar volstoom gerock is met Kurt se “Vat So Seerower, Vat So!”

Daarna moes hy eers ‘n “rasende grassnyer” buite gaan stilmaak terwyl Karen met ‘n Elton John-keurspel weggeval het. Elton is een van hul albei se gunsteling-liedjieskrywers. Karen het aan hartsnare geraak toe sy verduidelik het waarom sy

“As Musiek Begin Speel” vir haar seun, wat nou nege is, geskryf het. Haar ma is op 34 dood en sy (Karen) het altyd gehoop dat iemand ‘n brief of ‘n bandopname met ‘n boodskap van haar ma iewers vir haar bêre.

“Ons wil almal vir ons kinders iets sê, maar mense onthou nie wat jy sê nie. Almal luister egter musiek.”

En almal hét met vol harte geluister na haar ongelooflik gevoelvollevertolking van dié treffer. Kurt het geantwoord met sy eie “Ek Wens Vir Jou”, ‘n prettige liedjie wat hy vir sy dogter Kyra geskryf het.

Karen het die gehoor vir oulaas met haar vertolking van Valiant Swart se “Sonvanger” aan haar voete gehad, voordat daar op ‘n hoë noot met ‘n jazzerige “Kaptein” afgesluit is.

• Kurt & Karen sing weer vandag om 19:00 en Saterdag om 10:00 in die Nelspruit Hoërskool Ouditorium.

Kaartjies kos R142. Moet dit nie

misloop nie!

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version