Innibos lewer ‘n opskop soos min

Vanjaar is ekstra spesiaal omdat Innibos vir elke jaar van sy bestaan iemand se spesiale droom waar maak met die tema #droomgroot.

MBOMBELA – Innibos se jongste aflewering verloop so soet soos stroop. Die 13de fees het Woensdag afgeskop.

Volgens die fees se bemarkingshoof, Sandra Jacobs was bywoning by die Huisgenoot 100 Afskopkonsert ‘n bietjie minder as verlede jaar, maar ‘n bietjie meer as in 2014. Verkope van teaterproduksies is egter baie goed.

“Ons het al klaar meer kaartjies verkoop as waarmee ons verlede jaar geïndig het,” het sy Donderdagmiddag gesê. “Ons bied vanjaar wel ‘n paar meer produksies aan, maar mense ondersteun dit goed.”

Laevelder se teaterresensent, Paul Boekkooi, sê hy is besonder beïndruk met die hoë kwaliteit van die produksies by vanjaar se fees.

Groet die Grotheld verkoop egter nie soos dit moet nie. “Dit is briljant,” sê Sandra. “Dit is ‘n komedie, maar aan die einde huil jy.”

My briljante egskeiding is ‘n uitstekende eenvrou-vertoning wat ook nie tans met die verwagte kaartjieverkope spog nie – nadat dit elders stampvol sale mense kon lok. Anthea Thompson is boonop vir ‘n Kanna benoem vir haar vertolking.

Die klug Twee vir die prys van een het ook ‘n baie oulike storielyn en spog met Liz Meiring, Hannes Muller en Marisa Drummond in die rolverdeling.

Jacobs het bygevoeg feesgangers moet nie die rand kunsuitstalling by Mbombela-gallery by Van Riebeeckpark misloop nie. Die werke van 40 plaaslike kunstenaars word daar uitgestal. “Dit is báie mooi, ek was aangenaam verras,” sê sy. “Ek is so trots daarop. Dit is baie lewendig en vibrant.”

Dit is vir Innibos belangrik om terug te gee aan die gemeenskap. Vanjaar is ekstra spesiaal omdat hulle vir elke jaar van hul bestaan iemand se spesiale droom waar maak met die tema #droomgroot. Van hierdie drome is klaar bewaarheid.

Die Innibos-span het gehelp dat Charné Meintjies (27) ‘n lewensveranderende prostetiese voet en vingerpunte kan bekom.

Innibos kon ook al Everine Cason (88) se droom om haar eerste solo-tentoonstelling te hou, moontlik maak.

‘n Man se gesinsvakansie droom is by die loodskonsert waargemaak. Saam met Sappi gaan Innibos ook boeke bymekaarmaak vir ‘n skool biblioteek en saam met J&M Sekuriteit vir 20 vigswesies skoolskoene koop.

Helen Ahlers, die fees se getrouste Facebook-ondersteuner het ook kaartjies gekry om Saterdagaand se Jacaranda FM-konsert vanuit die goue sirkel te kyk, nadat sy uitgemis het omdat dit so vinnig uitverkoop het.

• Kaartjies vir die feesterrein en produksies is by Computicket beskikbaar.

Exit mobile version