FeaturesInnibos NuusLifestyle

RSG-aanbieder deel skreeusnaakse staaltjies van luisteraars wat inbel

Elders FM is by die Mhoba Rum Boma-kuierteater te sien.

MBOMBELA – Ian Wessels se bekende stem maak vanjaar in die vlees ‘n draai by die Mhoba Rum Boma-kuierteater.

Dié RSG-aanbieder is tussen 12:00 en 15:00 op die lug te hoor waartydens die gewilde insetsel, Loslip, plaasvind wanneer luisteraars regstreeks per telefoon, e-pos of SMS aan dié program deelneem.

Ian se filosofie is om te vergeet van wat “die mense” sal sê en om met oorgawe te wees wie jy reeds is. Sy boek, Loslippig, gee ‘n loslipkykie na menswees en lewer humoristiese sosiale kommentaar aan die hand van onderwerpe waaroor daar op die radioprogram gesels word.

Net so is Elders FM, wat Innibos-feesgangers vandeesweek te siene kan kry, op dié mense geskoei. Hy het dit spesiaal vir Innibos geskryf.

“Elke enkele ding waarna ek in Elders FM verwys, het werklik gebeur, maar nie noodwendig by RSG nie,” het hy aan Laevelder verduidelik. “Dit is ‘n versameling van my eie ondervindings en ‘flaters’ oor 21 jaar, dié van kollegas by drie ander anonieme radiostasies en onberispelike naamlose bronne van elders.

“Omdat mense eerder die splinter in iemand anders se oog raaksien as die balk in hulle eie, het ek die meeste insidente onder die sambreel van Elders FM ingeprop, sodat almal beter te kan sien, my kind.

“Oor die algemeen neem ek myself nie vreeslik ernstig op nie, en daarom doen ek maar dieselfde met luisteraars. Die van hulle wat hulself tog so verskriklik ernstig opneem en net onder hulle eie oogklappe uit na die lewe kan loer, is vir my amusant.”

Sou enige teaterganger hulself dus in Elders FM se karakters herken, wees gerus dat hy van iemand anders praat. “Ek kontrasteer wel hier en daar die stereotipe anonieme RSG-luisteraars met Elders FM s’n. Terloops, laasgenoemde se luisteraars vind RSG s’n vreemd, maar dit is onseker of dit hulle is wat nie altyd normaal is nie, of die RSG-luisteraars.”

Elders FM bekryf ook talle ware gevalle waar die tongduiwel omroepers se tonge geknoop het.

“Ek het die naam ‘tongduiwel’ geskep as eweknie van die gedrukte media se drukkersduiwel,” sê Wessels.

“In die ateljee span die twee dikwels saam om omroepers te kasty. Dan is daar natuurlik ook heelwat voorbeelde van luisteraars se grille en geite. Ek sou sê inbellers amuseer my meer as wat hulle my raak, hoewel dit natuurlik soms gebeur. Heelwat het al in trane uitgebars as hulle oor persoonlike seer praat.”

Hy vertel dat een van die vreemdste ervarings was toe ‘n vrou opreg en in groot detail vertel het hoe sy deur aliens ontvoer is en meer as 20 jaar op hulle planeet “Urk” deurgebring het.

Op ‘n ander keer het hulle oor interessante stokperdjies gesels. “Toe vertel ‘n vrou trots sy versamel handtekeninge van bekendes. Op my vraag waar sy die handtekeninge kry, antwoord sy sonder om te blik of te bloos dat begrafnisse haar grootste bron is.

“By ‘n bekende se begrafnis is daar altyd ander bekendes. Sy het onder andere Jana Cillers se handtekening op haar ma se begrafnis gekry. Deesdae woon sy nie meer so gereeld politici se begrafnisse by nie, maar in PW Botha se tyd was sy op al wat Nasional Party-politikus was se begrafnis.

“Pik Botha wou haar selfs aan iemand voorstel, maar hy kon nie op haar naam kom nie. Op my vraag of dit nie dalk die perke van goeie smaak oorskry nie, antwoord sy ontkennend: ‘Mense wil nie met jou stry op ‘n begrafnis nie. Hulle teken liewer!'”

Lesers kan gerus gaan loer waarmee Ian alles besig is, en hom daarvandaan kontak.

• Elders FM is Vrydag om 13:00 en Saterdag om 14:00 by die Mhoba Rum Boma-kuierteater te sien.

Back to top button