FeaturesInnibos NuusLifestyle

‘n Kollektiewe mallemeule van vaardighede kry lewe op die verhoog

Hond se gedagte is 'n kollektiewe mallemeule van vaardighede wat fyn ingestel is om gehore te vermaak... soos wat Feydeau dit sonder twyfel bedoel en wou gehad het.

Hond se gedagte, deur Georges Feydeau

Vertaling: Nerina Ferreira

Met Sandra Prinsloo, Louw Venter, Albert Pretorius, Lorraine Burger, Martelize Kolver, Wikus du Toit, Pierre Breytenbach, David Johnson, June van Merch, Oscar Petersen, De Klerk Oelofse en Hannah Borthwick

Regie: Christiaan Olwagen

Hond se gedagte tel onder die klug der klugte in Frans en is oor die afgelope anderhalf eeu in dosyne tale vertaal, waaronder ook in Afrikaans deur Nerina Ferreira.

Hare was redelik gewaagd vir sy tyd, maar geensins op die meer vulgere vlakke waarop talle latere, meer eietydse vertalers, sou mik nie.

Tog is dit ideaal gesproke ‘n voordeel indien ‘n vertaling die idioom van sy eie tyd weerspieël en Ferreira s’n was bepaald vooruitstrewend vir die periode waarin sy dit geskryf het – waarskynlik die 1980s.

Hierdie Stellenbosch Woordfees 2016-produksie is deur ‘n jonger geslag teatergangers geesdriftig ontvang, maar baie van die ouer garde het op allerlei maniere hul misnoeë te kenne gegee: deur uit te stap of hul verontwaardiging verbaal, in die sosiale of ander media te uiter.

Sedert die tyd van Feydeau se veel vroeëre voorganger, Molière, is verstikkende preutsheid veral in Frankryk rondom seks merendeels uitgewis, maar daar bestaan ‘n oorsensitiewe walgooiery by sommige van ons eie mense. Wat sou Freud hiervan sê?

Dit is bepaald deesdae luuks om ‘n stuk met ‘n dosyn spelers op enige verhoog te sien, maar met nege deure op die agterhoog en vier aan elkeen van die sykante, is so ‘n geselskap onontbeerlik. Vir hierdie noorderling is die meerderheid van hulle redelik onbekend, maar ‘n mens moet eenvoudig toegee dat van hulle reputasies, soos hier ten volle geopenbaar, hulle vooruitgeloop het.

Elkeen van hulle was omlys binne ‘n fyn geslypte persoonlikheid, met eksentrieke streke en al, terwyl aan die graad van deurlopende energie – so eie aan die klug – grensloos voldoen is. Maar klug het ook alles te make met miniskule tydsberekening wat, sou jy ‘n beweging of ‘n gesigsuitdrukking ‘n sekonde of wat te laat in plek hê, die oomblik se effek vir altyd daarmee heen is.

Spraak en klank kom veral hier ook oor as ‘n verdere vaardigheid wat aan die voete van die akteurs gelê word. Dit is opvallend hoe elkeen in mindere of meerdere mate hieraan gehoor gee – iets wat ‘n bykomende dinamiek tot Christiaan Olwagen se regie toevoeg. Die stel- en kostuumontwerpers en die rekwisiete wat soms in belangrike klein detail die pret verhoog, is bepaald ewe veel daarvoor verantwoordelik dat dié produksie by tye – te midde van dolle draaie en fisieke uitdagings – tog steeds gefokus bly en daardeur die gehoor meevoer.

Hond se gedagte is ‘n kollektiewe mallemeule van vaardighede wat fyn ingestel is om gehore te vermaak… soos wat Feydeau dit sonder twyfel bedoel en wou gehad het.

Back to top button