Fees van die ongekontrakteerders

Die top twee RockRumoer-finaliste is gisteraand aangewys en kap dit vanaand op die hoofverhoog uit.

Tien nuwe rockgroepe het gisteraand die MK NOU!-verhoog aan die brand gespeel terwyl hulle dit uitge-battle het vir die kroon by Innibos se eerste RockRumoer-kompetisie.

Dit was oop vir enige band wat nie reeds by platemaatskappye gekontrakteer is nie. Die publiek se stemme het die finaliste bepaal. Uit almal is Tuin en Jonathan Peyper Trio as die top-twee aangewys.

Hulle speel vanaand saam met van die beoordelaars en ander gewilde bekende rockers op die hoofverhoog by die kykNET Rock-konsert.

Die paneel het uit ervare liedjieskrywers en rockers Karen Zoid en Hunter Kennedy bestaan, asook Jacaranda FM se Martin Bester, Haddad Viljoen van NicheStreem Music en kykNET se Suné Lotter.

Die Johathan Peyper Trio het skoonskip gemaak. Hulle het Jonathan as die beste sanger aangewys, Jason Hinch was die top-drommer en “een standaard masjien van ‘n man” en Chris van der Walt was die beste baskitaarspeler.

Jay Solo was die beste kitaarspeler. Elkeen is met R1 000 beloon.

Die wenner van die twee groepe wat vanaand saam met Karen en Die Heuwel Fantasties asook Dan Patlansky, Francois van Coke, Kahn Morbee, Albert Frost, Prime Circle en Black Cat Bones optree, sal met R25 000 se prysgeld wegstap, sowel as R30 000 om saam met MK ‘n musiekvideo te maak.

Die groepe is op hul musikaliteit, oorspronklikheid, verhoogpersoonlikheid en interaksie met die gehoor beoordeel. Karen het al die deelnemers, wat van oraloor in die land gekom het, aangeraai om aan te hou inskryf vir kompetisies. “Dit is beter om te probeer as om nie te probeer nie.”

Sy het vir Laevelder gesê dit is jammer dat die Afrikaanse groepe min Afrikaans gesing het. Die vier vroue van Tuin was die uitsondering en het meestal hul eie Afrikaanse liedjies gesing, insluitend die prettige “My lewer is ‘n superhero”.

Jonathan Peyper Trio se blues en lang solo’s was mooi.

Indigo Reign het ook met drie oorspronlike liedere en ‘n skaflike cover van Jimi Hendrix se “Voodoo Child” beïndruk. Die head bangers van Centurion, Held on Till May was energiek en ambisieus: hulle het seker gemaak elke beoordelaar is met ‘n kopie van hulle EP weg.

Mbombela se The Unknown het die meeste ondersteuning van die karige skare geniet. Hulle “Red Dress” was sexy en hulle weergawe van Jan Blohm se “Breyten se brief” was spesiaal.

Out Cry was interessant. Die groep se vyf lede woon in verskillende stede in Suid-Afrika en Swaziland. Hulle het egter elkeen by Penryn College gematrikuleer en het ses maande laas saamgespeel.

Daar was verder min te kies tussen Backstage, Drywater, Vintage Kings en Wit Kasteel. Suné het gesê die kompetisie was ‘n wonderlike platform. “Die prysgeld sal hulle die geleentheid gee om net ‘n trappie hoër te kom as waar hulle is.”

Haddad het gesê dit is ‘n baie belangrike kompetisie. “Dit moet aangaan en groei. Ek sou meer oorspronklikheid wou sien, maar ek dink dit is ‘n kwessie van tyd – hulle is nog jong bands.”

Hy het bygevoeg dat dit wonderlik was dat rockmusiek, wat altyd ‘n klein deeltjie van die fees was, nou op die hoofverhoog gehoor word.

Vanaand se kykNET Rock-konsert beloof groot dinge op die hoofverhoog.

Dan Patlansky word beskou as sekerlik die beste blues-musikant in die land. Francois van Coke en Kahn Morbee is deesdae ook solokunstenaars, na hulle bekendheid verwerf het as die voormanne van Fokofpolisiekar, Van Coke Cartel en The Parlotones. Francois se debuut-soloalbum het winkelrakke vroeër vanjaar getref.

Sy “Toe vind ek jou”-duetmaat en Kahn se The Voice SA-kollega, Karen Zoid is ook vanaand op die verhoog. Dié rocker se gewildheid neem net toe, veral oor haar sukses op die kassie met die Republiek van Zoid Afrika.

Ander ou gunstelinge is Albert Frost, Prime Circle en Die Heuwel Fantasties. Die wilde harde rockers van Black Cat Bones sal boonop ook vanaand vir die eerste keer op die hoofverhoog te siene wees.

Om teleurstelling en FOMO te vermy, maak seker jy mis nie uit op dié besonderse geleentheid om die room van rock saam in aksie te sien.

• kykNET se rock-konsert vind vanaf 18:00 plaas op die Standard Bank-verhoog. Toegang tot die feesterrein beloop R100.

Exit mobile version