Koekedoor vandag te sien by Innibos

Om meer oor haar uit te vind, besoek Innibos se Kos-crawl vanag (1 Julie).

MBOMBELA – Oud-Hoërskool Nelspruit-leerling en bobaasbakster, Corli Botha, spook tans sake in kykNET se welbekende werklikheidsbakkompetisie, Koekedoor uit. Sy en Wessels van Vuuren is tans in die toptwee van die tweede seisoen van dié reeks, en sal op 7 Julie uitvind wie met die titel as vanjaar se Koekedoor wegstap.

Botha het die Laeveld ongeveer ses jaar gelede vir Pretoria verruil met die oog op groener weivelde, maar bieg dat haar hart steeds hier lê.

Sy is ‘n kranige entrepeneurbakster wat haar liefde vir bak van haar ouma Corrie kry.

Terwyl sy en haar rugbyspelerman in Frankryk gebly het, het sy die kans benut om verskeie Franse fyngebaktegnieke aan te leer. Haar familie kan nie genoeg van haar swartwoudkoek kry nie en wanneer sy wil asem skep, geniet sy graag die buitelewe.

Sy glo as jy met liefde bak, dat ‘n mens dit kan proe. “Bak het my nog altyd laat goed voel, veral as ek die eindresultaat sien. Dit gee uiting aan emosie, dit stimuleer jou sintuie, dit is kreatief en natuurlik die plesier om iemand anders met jou gebak te bederf.”

Haar baktoprusting vir sukses, sê sy, is ‘n elektroniese skaal, digitale termometer, panne, panne en nogmaals panne en haar resep is om nooit bang te wees om iets wat moeilik of onbekend lyk, te bak nie, want dis juis hierdie gebak wat gewoonlik baie eenvoudig uitdraai.

“As jy dit nie regkry nie, probeer weer – niks is onmoontlik nie,” het sy aan Laeveld Media se leefstyltydskrif, Get it Lowveld vertel. “Om te bak is soos ‘n modegier – jy maak dit waarvan jy hou en wys dit vir die wêreld,” sê sy.

Om te bak en kook was nog altyd Botha se veilige hawe. Sy sê dat Koekedoor ‘n reuse-uitdaging vir haar is, maar veduidelik dat dit iets is wat sy vir haarself moet doen.

“As ek nou terugkyk na die uitdagings kan ek sien waar ek dit geniet het, en waar ek effe klei getrap het. Maar elke dag in die kompetisie het my baie van myself geleer, en ook baie van ander mense,” vertel sy. Botha het ongeveer drie jaar gelede op ‘n klein skaal begin om haar stokperdjie te transformeer in ‘n diens wat sy eers net onder haar vriende verskaf het. Nou het sy haar eie besigheid genaamd Corli’s Kitchen. Om meer oor haar uit te vind, besoek Innibos se Kos-crawl vanag (1 Julie).

Exit mobile version