Gee die geskenk van lewe by Innibos

Almal droom vanjaar groot by Innibos. Die fees, wat Woensdag afskop, maak vanjaar ook spesiale wense waar vir elke jaar van sy bestaan (13).

MBOMBELA – Tog is daar mense wat iets so algemeen, so alledaags soos bloed benodig om hul lewens te red. Daarom beman die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBD) vanjaar weer ‘n stalletjie op die feesterrein.

Boonop is van SANBD se mees gereelde staatmakerbronne van bloed, skole en kolleges, vir die vakansie gesluit. Teen Maandag het die nasionale bloedvoorraad op slegs 3,3 dae, baie laer as die teiken van minstens vyf dae, gestaan.

Die stalletjie is op die feesterrein by Hoërskool Bergvlam langs die kosstalletjies in die Bosmôl en sal elke dag tot Saterdag vanaf 10:00 tot 21:00 oop wees.

Kom maak ‘n draai, dis goed vir jou gesondheid en jy kan tot vier mense help met net een eenheid bloed, nooi Whanita Parkes, openbare betrekkinge-bestuurder in die area. Maak net seker jy eet iets voor jy skenk. Dit maak ook nie saak as jy iets alkoholies drink voor jy bloed skenk nie – die prosesse waardeur die geskenkte plasma gaan verwyder dit in ‘n japtrap.

Jou bloed is dus veilig, maar dit is ook vir jou veilig om bloed te skenk. Met elke skenking word nuwe gesteriliseerde toerusting gebruik.

‘n Vingerpriktoets vooraf bepaal of jou yster binne veilige vlakke is, en jou polsslag en bloeddruk word getoets om seker te maak dat jy maar ‘n bietjie bloed mag verloor en steeds verder kan fees hou.

Dit neem ongeveer 20 minute om die geskenk van lewe te maak. Jy moet ouer as 16 wees, ten minste 50 kilogram weeg en algemene goeie gesondheid geniet.

Navrae: 080-011-9031.

Exit mobile version