FeaturesInnibos NuusLifestyle

RockRumoer beoordelaar: ‘Ek soek ‘n ongeslypte diamant. Ek wil die toekoms in een van hulle sien’

Die twee beste rock-groepe word vanaand tydens 'n kompetisie op die MK NOU!-verhoog gekies.

Innibos gaan vanjaar hard rock. Vanaand vind die groot battle of the bands, die Innibos RockRumoer-kompetisie plaas.

Dit is ‘n eerste vir die fees. Die publiek kon vir hul gunsteling-beginnergroepe stem en hul top-10-keuses neem vanaand op die MK-verhoog aan die kompetisie deel.

Hulle is Backstage, Drywater, Held On Till May, Indigo Reign, Jonathan Peyper Trio, Out Cry, Tuin, The Unknown, Vintage Kings en Wit Kasteel. The Unknown en Backstage se lede bly almal in die Laeveld.

Van die keuringspaneel sluit in Karen Zoid, Hunter Kennedy, Jacaranda FM se Martin Bester en Suné Lotter van kykNET. Hulle sal vanaand twee wengroepe bepaal wat môreaand tydens kykNET se rock-konsert die hoofverhoog sal deel met Karen en Hunter se Die Heuwels Fantasties sowel as Albert Frost, Black Cat Bones, Dan Patlansky, Francois van Coke, Kahn Morbee, Karen Zoid en Prime Circle.

Een van die twee groepe sal daarna as wenner uit die stryd tree, met ‘n prysgeld van R25 000. Pryse sal ook aan die beste sanger, kitaar-, trom- en baskitaarspeler toegeken word. Elkeen van dié wenners kry R1 000.

Hunter het vir Muskiet gesê hy dink die kompetisie is ‘n great inisiatief.

“Enigiets wat kreatiwiteit ten toon stel en bevorder is welkom. Dit voel asof dit deesdae weer moeilik is vir nuwe bands om voor te kom. Ek dink dit is groot van Innibos om hul platform te gebruik om nuwe musiek te ondersteun.”

Hy het bygevoeg hy sal elke groep vanaand volgens hulle optrede beoordeel.

“Ek gaan luister na die liedjies. Ek soek ‘n ongeslypte diamant. Ek wil die toekoms in een van hulle sien.

“Ek soek hooks en interessante melodieë. Ek gee meer om oor die tegniese vernuf as die genre. Ek sal ook kyk na hul interaksie met die gehoor. Ek gaan waarskynlik die band wat my nie verveel nie en my iets diepgaande laat voel, die hoogste score.”

Innibos weet groepe betaal meestal meer om by gigs uit te kom as wat hulle verdien, daarom word ‘n reistoelaag, slaapplek in ‘n koshuis en eetbewyse aan al 10 finaliste verskaf.

“Daar is ‘n magdom talentvolle rockers wat verdien om gehoor te word, en met die RockRumoer-kompetisie wil Innibos-kunstefees hulle ‘n kans gee,” sê die fees se Adelene Niehaus, projekbestuurder van die RockRumoer-kompetisie.

“Met die bystand van uitsonderlike tegnici in klank en beligting, glo ek ons gaan lekker verras wees deur die gehalte van die bands. Ons hoop die RockRumoer word dié kompetisie waar nuwe rockers hulle kan laat geld.”

• Die RockRumoer-kompetisie vind op die MK NOU!-verhoog om 18:00 plaas. Toegang tot die feesterrein beloop R100.

Back to top button