FeaturesInnibos NuusLifestyle

Hope pret wag vir al die klein mensies

Apies Innibos is die ideale plek waar die kleinspan kan kom speel en hulself gate uit geniet. 'n Propvol-vermaakprogram met baie pretaktiwiteite word daagliks van 11:00 tot 17:00 gratis aangebied.

Hier is ‘n paar aktiwiteite waarna jou kleinding kan uitsien:

Sonja en Tjokker
In hierdie oulike musiekproduksie sing Sonja en haar beste honne-pêl bekende sowel as nuwe oorspronklike liedjies vir die kinders. Die kleinmensies word uitgenooi om saam te dans en aan die aksie deel te neem. Tjokker vermaak almal met sy manewales en sy oulike sê-goed. Dié wollerige hond met die bruin oë sal dadelik diep in die harte van die kinders kruip. Die program het ‘n geestelike en opbouende aanslag.
Optreetye: Woensdag 29 Junie om 16:00, Donderdag 30 Junie om 13:00, Vrydag 1 Julie om 15:00 en Saterdag 2 Julie om 14:00.

Die Drie Varkies

Die drie varkies kom kuier by Innibos, want hier is alles moontlik. ‘n Vark kan ‘n kat wees en ‘n wolf kan allerhande varkerige idees vir ‘n lekker braaitjoppie of twee hê. Maar bloed is dikker as water en sussies wat saamstaan, is sterker as ‘n nare wolf wat hulle wil vang. Kom kyk hoe kat-varkie, matroos-varkie en ballerina-varkie vir Elvis die wolf pak slae gee as hy hulle wil vang.
Optreetye: Woensdag 29 Junie om 14:00, Donderdag 30 Junie om 14:00, Vrydag 1 Julie om 12:00 en Saterdag 2 Julie om 13:00.

Die drie varkies
Die drie varkies

Spotprente saam met Ghost
Die bekende Laeveldse spotprentkunstenaar, Ghost, gaan die kleinspan leer hoe om te teken. Hy gaan op ‘n vindingryke en maklike manier demonstreer dat teken eintlik kinderspeletjies is. Moet nie hierdie geleentheid misloop nie – daar skuil dalk net ‘n Picasso of ‘n Ghost in elk van die kleingoed.
Optreetye: Woensdag 29 Junie om 15:00 en Vrydag 1 Julie om 11:00.

Tjiff en Tjaff
Hierdie twee geliefde karaktertjies kom kuier vanjaar weer by Innibos en hulle nooi die kleinspan om saam te kom kuier, sing en dans en om sommer hope pret te hê. Na die vertoning kry maats die geleentheid om die twee te ontmoet en om ‘n drukkie te kry. Kom neem gerus foto’s en tweet, SMS, Facebook dit. Geborg deur kykNET.
Optreetye: Woensdag 29 Junie om 17:00, Donderdag 30 Junie om 11:00, Vrydag 1 Julie om 16:00 en Saterdag 2 Julie om 12:00.

Tjiff en Tjaff
Tjiff en Tjaff

Huletts Kolwyntjiepret
Vanjaar is daar vir die eerste keer by Apies Innibos opwindende aktiwiteite wat die kleinspan kan meemaak. Heerlike kolwyntjies is deur die VLU gebak en wag net om deur kreatiewe vingertjies versier en deur gretige mondjies geëet te word. Geborg deur Huletts.
Optreetye: Woensdag 29 Junie om 12:00, Donderdag 30 Junie om 16:00, Vrydag 1 Julie om 13:00 en Saterdag 2 Julie om 11:00.

Kidazzle
Kidazzle Laeveld se kreatiewe span is reg om hierdie jaar die kleingoed daagliks besig te hou deur hul eie kunswerke te skep. Saam gaan hulle die mooiste handpoppe uit sokkies maak. Daar gaan ook sleutelhouers en roomysstokkie-boekmerke gemaak word en springmielie-bokse versier word sodat heerlike springmielies gemaak kan word. Kom deel in die pret met elke aktiwiteit. Al die materiaal en gereedskap vir die kunswerke word voorsien.
Optreetye: Woensdag 29 Junie om 13:00, Donderdag 30 Junie om 12:00, Vrydag 1 Julie om 17:00 en Saterdag 2 Julie om 15:00.

Ronnie die Renoster
Hierdie is ’n unieke produksie wat kinders op speelse wyse van natuurbewaring bewus maak. Ronnie is verwyder uit die wildtuin en bly nou in ’n natuurreservaat vir veilige bewaring. Hy ontmoet daar vir Jess en Riki en hulle drie word sommer vinnig groot maats. Hulle leer kinders van goeie waardes deur middel van kreatiewe stories en oorspronklike liedjies.
Optreetye: Woensdag 29 Junie om 11:00, Donderdag 30 Junie om 17:00, Vrydag 1 Julie om 14:00 en Saterdag 2 Julie om 16:00.

Koningskos
Koningskos is ’n poppekas wat kinders leer om die Bybel as riglyn in die lewe te gebruik. Met Grusty, die gemorsmonster, en vele ander kleurvolle karakters en liedjies, word die waarheid van God se Woord op ‘n genotvolle en snaakse wyse gebring wat die kinders se harte gaan raak. Wouter de Witt, sy vrou Melanie, en die foamheads sorg vir groot vermaak en geestelike voedsel.
Optreetye: Donderdag 30 Junie om 15:00 en Saterdag 2 Julie om 17:00.

Daar is ook tafeltjies en stoeltjies waar die kleinspan na hartelus kan inkleur en verf, knip en plak, klei speel en blokkies bou. En natuurlik ’n springkasteel waar hulle van al hulle energie ontslae kan raak. Alles onder die waaksame oë van bekwame personeel.

Kinder-oppasdiens op die feesterrein

Die ATKV Laeveld-tak bestuur die Apies Innibos-aktiwiteite en ouers kan hulle kinders met ‘n geruste hart hier in die bekwame hande van die span laat. Kleintjies moet in- en uitgeteken word, maar die groter kinders is welkom om te kom en gaan soos hulle wil.
’n Kinder-oppasdiens is ook daagliks beskikbaar. Ouers wat graag ’n produksie wil bywoon of net in vrede tussen die stalletjies wil gaan stap, kan gerus hiervan gebruik maak.
Vir die kleinspan wat ingeteken is, is daar tydens middagete ‘n heerlike worsbroodjie wat deur Enterprise geborg word.
Daar is ook ‘n aand-oppasdiens. ’n Kinder DVD, inkleurgoed en speletjies word gebruik om die kleingoed besig te hou en daar is matrassies waarop die hulle kan slaap. Bekwame personeel sien na die kleintjies om teen ‘n billike tarief. Navrae: 082-321-6311.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button