FeaturesInnibos NuusLifestyle

Droom Verlore by Innibos

Nathani Lüneburg, 2016-feeskunstenaar, se digitale stopraam-animasievideokuns het kunsliefhebbers wat die opening bygewoon het, stomgeslaan.

Die opening van die Innibos Kunsuitstalling het op Dinsdag 28 Junie in die voorportaal van die Mbombela Burgesentrum plaasgevind en kunsliefhebbers is dit eens dat die kurators weer hierdie jaar daarin geslaag het om ‘n uitmuntende uitstalling saam te stel.

Feesgangers kan vir die duur van Innibos kunswerke van verskeie nasionaal bekende kunstenaars by hierdie uitstalling geniet. Dit sluit Eric Manganye, Samson Mnisi, André Naudè, Vusi Beauchamp, Clare Menck en Alex Hamilton in.

Nathani Lüneburg, 2016-feeskunstenaar, se digitale stopraam-animasievideokuns het kunsliefhebbers wat die opening bygewoon het, stomgeslaan.

Grootskaalse kunsvideos waarin karakters, kleure en fantastiese kreature van raam tot raam verander en beweeg, word op massiewe skerms vertoon. John-Anthony Boerma, kunskurator vir vanjaar se uitstalling, beskryf die werke:

“In dié droomwerke kom die surrealistiese aard van drome na vore, en kan dit ook lei tot verlies en is verwronge – wat die droom se ware betekenis vir die dromer verdoesel.”

Lüneburg se kunswerke is ‘n protesaksie waarin sy kommentaar lewer op traumatiese gebeure wat Suid-Afrikaners elke dag in die gesig staar. Sy probeer trauma as ‘n simpatieke buitestaander begryp deur die realiteit daarvan in drome uit te beeld. Sy het met Innibos oor haar kuns gesels:

Elize Cawood het Lüneburg se uitstalling met die volgende woorde geopen: “Op die ou einde is al wat saak maak, dít wat jy ervaar wanneer jy hierdie uitstalling beleef. Vir my is dit ‘n sintuiglike ontploffing.”

Lüneburg het in Witrivier grootgeword en stal nou vir die eerste maal in die Laeveld uit. Sy doseer beeldende kuns by Unisa en studeer tans vir ‘n DPhil-graad in dié veld by die Universiteit van Pretoria.

Die Mpumalangase LUR vir finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, Sikhumbuzo Kholwane, het tydens die opening van die uitstalling sy trots teenoor die organiseerders van Innibos uitgespreek: “Such events as Innibos are significant as they bring our people together, irrespective of their diverse culture or languages.” Hy het verder gesê dat Suid-Afrikaners een nasie, verenig in die diversiteit van die mense is, en dat dit die boodskap is wat een en elk moet uitdra.

Kunsliefhebbers kan uitsien na ‘n daaglikse kunsrondleiding wat van 29 Junie tot 2 Julie om 11:00 by Mbombela Burgesentrum. Tydens hierdie rondleiding kan daar met van die kunstenaars sowel as Boerma gesels word.

Die #Droomgroot Uitstalling, waar plaaslike kunstenaars uitstal, kan ook vir die duur van die fees by die Mbombela Kunsgalery te sien wees. Kunswerke word by beide uitstallings te koop aangebied.

Back to top button