FeaturesInnibos NuusLifestyle

Resensie: Plant vir my ‘n boom

Resensent Paul Boekkooi meen dis meer as slegs die moeite werd om te ervaar: Dit is 'n eenmalige belewenis!

Paul Boekkooi

Plant vir my ‘n boom André deur Deborah Steinmair
Met Erik Holm en Tinarie van Wyk Loots
Regie: Jan Groenewald

Ons kan nie meer sonder Ingrid Jonker nie. Haar spook loop multi-dissiplinêr en sonder ruskans by feitlik elke denkbare plaaslike kunstefees rond en die mense práát dat dit gons.
Luna Paige wat die produksie Korreltjie Kantel op die planke gebring het, sê: “Sy is dikwels jong mense se eerste kennismaking met poësie, en niemand vergeet hul eerste digter nie”. Die literêre analis en kritikus prof. Louise Viljoen meen dat “Ingrid Jonker een van die min mense is wat die grense tussen Afrikaans en Engels kon oorskry,” terwyl Jack Parow, soos gewoonlik, niks kon binnehou nie met sy uitspraak: “Dis Ingrid f*kken Jonker, sy laat die land in die see instap.”
Maar wag, hierdie is veronderstel om ‘n resensie van Plant vir my ‘n boom André te wees. Wyle André P. Brink het, ietwat geparafraseer, hom as volg oor Jonker uitgelaat: “Sy was’n vrou wat ‘n romanse met die see gehad het. En sy was te veel vir die see. Hy was haar laaste minnaar wat haar ook teruggegooi het.”
Hierdie is slegs een van baie sierkranse wat die kern vorm rondom aanhalings wat die skrywer Deborah Steinmair gebruik het vir haar debuut as dramaturg. Eintlik is dit, uit elke konvensionele hoek beskou, op geen manier ‘n drama nie. Op een vlak is dit poësie in beweging -‘n ballade waarin die lewens van die digter Ingrid Jonker en Brink inmekaarvleg deur hul eie woorde, soos gedokumenteer in hul briewe, haar digkuns en sy skerp, maar dikwels bitter analise wat hul jong, passieryke verhouding betref.
Oënskynlik was dit nie naastenby so hemels as wat sommiges sou kon dink nie, maar op sy beste was dit soos ‘n drukgolf wat ‘n kreatiewe krag in hul midde gelaat het en uitgespruit het in ‘n wesenlike asook betekenisryke spel met woorde. Hul nalatenskap wink ons tot vandag toe nader deur hul oorheersende helder betoog, maar by tye ook deur ‘n ietwat geheimsinnige tydloosheid.
Plant vir my ‘n boom André is geplaas gedurende die nag voordat Brink sy laaste eredoktorsgraad in Leuven, België, sou ontvang. Dit was terloops gedurende sy terugvlug na Suid-Afrika dat hy op 6 Februarie verlede jaar oorlede is.
“Jonker verskyn voor hom in sy rolstoel as die Koningin van die Elwe,” laat weet die stuk se notas ons. Oor die daaropvolgende intense, maar ook meevoerende 53 minute, word die gehoor subtiel ingelei tot binne die lewens van die twee protagoniste. Dit open die droomwêrelde waarbinne minnaars hulself sou kon bevind, maar besin ook oor die literêre beweging waarvan hul albei deel was: die Sestigers.
Die geskiedenis van dié tydvak kom tot lewe in die intense, maar deeglik genuanseerde spel deur Erik Holm as Brink en Tinarie van Wyk Loots as Jonker. Holm is, soos Brink gedurende die laaste maande van sy lewe was, konstant in ‘n rolstoel.
In sy monoloë raak hy dikwels rebels rondom sy situasie – baie doelgerig en volhoudend so – maar dit verander skielik met elke verskyning van Jonker. Sy, vir die laaste keer, gryp elke moontlike geleentheid aan om voluit hul verlede te herleef.
Albei akteurs is met ‘n ruime gevoelsdiepte intens by hul karakters betrokke. Die wyse waarop die regisseur Jan Groenewald byvoorbeeld daarin slaag om hul innerlike gevoelswêrelde deur hul liggaamstaal te ontsluit, is ‘n konstante openbaring by dié opvoering.
Holm, as die intellektuele Brink, omvat alles van sy karakter met ‘n soms soekende, maar merendeels intense peiling van sy spesifieke gevoelswêreld en die briljantheid van veral daardie dialoë waarbinne hy Jonker uitdaag.
Van Wyk Loots leef haarself binne Jonker se feëwêreld met ‘n besondere finesse, maar ook met ‘n aantal snykante in. Maar sy is ewe meevoerend wanneer sy, in vinnige opeenvolgings, ons voluit moet oortuig van Jonker se humeurigheid wanneer sy soms beheer oor haarself verloor, asook haar gevoel dat sy nie kan inpas by ‘n onderdrukkende samelewing wat die onmenslike apartheidstelsel gegenereer het nie.
Plant vir my ‘n boom André is soveel meer as slegs die moeite werd om te ervaar: Dit is ’n eenmalige belewenis.

Back to top button