Resensie: People are Living There

Weerspieël steeds menslike kondisie wat oor die afgelope ruim 50 jaar nie wesenlik verander het nie.

Paul Boekkooi

People are Living There, deur Athol Fugard
Met Anna-Mart van der Merwe, François Jacobs. Carel Nel, Dania Gelderblom
Regie: André Odendaal

Dit is opvallend dat wanneer ‘n ouer Fugard-drama afgestof en na ‘n lang tyd weer opgevoer word, dit geensins as synde verouderd klink of voel nie. Dít alles het daarmee te make dat Fugard met People Are Living There ‘n briljante spelteks geskryf het, maar die intrige ook gelaai het met die soort dramaturgie wat die menslike kondisie weerspieël. En dít het oor die afgelope ruim 50 jaar nie wesenlik verander nie.


Toe dié produksie in Mei verlede jaar in die Markteater, Johannesburg gespeel het, was die algemene gevoel dat dit logies is dat Fugard se vroeë 1960s stuk oor arm Engelse of Afrikaners (maak dit enigsins saak?) in ‘n Braamfonteinse losieshuis vir ‘n slag deur ‘n Afrikaanse geselskap en ‘n invloedryke regisseur opgevoer word. (Terloops: van die minder ingeligte Engelse teatergangers het aanvanklik gedink die produksie is in Afrikaans vanweë die akteurs se Afrikaanse name. Hulle vrese is besweer toe bevestig is dat die verhoogtaal wél Engels sou wees).
Met soms verskeie rasse in ons land wat dieselfde taal deel, is dit nodig dat teatertradisies oor tyd deurlopend uitgedaag word en moontlik soms ook ietwat gesnoei word om hernude groei en nuwe lote te stimuleer. Hierdie uitgangspunt is veral belangrik rondom dramaturge wat, soos Fugard, nog leef.
Die karakters wat hy gekies het om te omskryf, woorde in hul monde te lê en instruksies deurgegee het oor hoe hulle moet beweeg, mimiek toepas óf hul liggame op ‘n spesifieke manier moet gebruik, kon net sowel Afrikaners wees al het hy hulle name soos Milly, Don, Shorty en Sissy gegee. Hier word hulle deur respektiewelik Anna-Mart van der Merwe, Carel Nel, François Jacobs en Dania Gelderblom gespeel. Dit kan dalk bevraagteken word of Fugard spesifiek dié tipiese kitchen sink-stuk tot die Afrikaanse psige wou laat spreek, maar dit doen óók.
André Odendaal, die regisseur, het duidelik die toneelstuk in sy geheel deeglik deurdink. Die verloop van tyd is ‘n ingeboude element wat, in die regte hande, ‘n byblywende effek op die gehoor kan hê. Tyd is aan die uitloop vir een en elk van hierdie vier genoemde karakters. Milly besef dat haar verhouding van 10 jaar met die ongesiene Mr Ahlers, een van haar loseerders, tot ‘n einde gekom het wanneer hy “’n ou vriendin” op die spesifieke Saterdag uitneem toe Milly 50 geword het. Sy is en voel ellendig met al die aggressie wat binne-in haar begin opbou het en moeg om te veg vir ‘n lewe rondom haarself wat nêrens heen op pad is nie.
Don se eie opinie oor homself is dat hy ‘n intellektueel is wat, te midde van ander kwaliteite, enige mens se karaktertrekke of wangedrag kan analiseer. Alhoewel hy meestal insig het, is hy merendeels werkloos. Shorty, ‘n posafleweraar, is die karakter wat die sterkste ‘n Afrikaanse aksent uitdra. Hy praat Engels so ietwat lukraak. Die tyd om ooit sy huwelik met Sissy te volvoer verminder by die dag. Hy het meer belang by sy na-uurse boksbedrywighede in ‘n nabygeleë gymnasium, terwyl sy sywurmversameling in ‘n skoendoos bykans al sy oorblywende tyd in beslag neem.
Sissy se uitbeelding en karakterisering bly redelik in die agtergrond – deels omdat sy die minste van al die karakters op die verhoog verskyn. Sy is, soos Ahlers, iemand wat mense “gebruik”. Sy verdwyn vir ‘n afspraak met die eweneens ongesiene Billy.
Die briljantheid van Fugard se subteks, sy gebruik van simbole, tydsberekening en spanning binne beide die dialoë en monoloë, praat met ‘n nuutgemunte innigheid en, waar nodig, ook vurigheid. Daar is grootmaat-energie, met Anna-Mart van der Merwe se Milly wat die geselskap lei in ‘n wipwaentjierit met sy skielike veranderings in rigting en fokus.
Die onderliggende krag wat ons tog ook te midde van Milly se moeë uitkyk op die lewe ervaar, kom van tyd tot tyd in ‘n paar verrassende tonele na bowe. Anna-Mart het ‘n vaste greep en skram nooit weg van haar ware strydvrae of wanneer sy in die knyp sit nie. Hierdie stemmingskontraste en verbale uitdrukkings wat haar buierigheid demonstreer, word indrukwekkend met subtiele nuanses hanteer, te midde van haar deurlopend fyn geprojekteerde stemgebruik.
Carel Nel se Don is merendeels soos ‘n veer wat sy opgedraaide limiet bereik het en daardeur voluit in karakter, maar dit is Shorty se naïewiteit wat in Jacobs se voorstelling die meeste lagbuie uitlok. Dania Gelderblom as Sissy het min kanse om ware glans uit te dra, maar sy slaag byvoorbeeld uitstekend in haar uitbeelding van die “stockings and suspenders”-toneel waarbinne sy tergerig en uitlokkend haarself voorberei vir haar afspraak.
Dié intens menslike People are Living There is Suid-Afrikaanse teater van wêreldgehalte, met die soort spelprestasies wat dit aanvul. Die produksie word afgerond deur die detailryke periodestel deur Nadya Cohen, die aanpasssing van Mannie Manim se oorspronklike beligting, asook die kostuums, verbeeldingryk ontwerp deur Nthabiseng Makone.

Exit mobile version